Inspiration
‘Katte is my lewe’: Bloemfonteiner (80) praat oor 30 diere in haar sorg─── SUSAN MARÉ 13:27 Fri, 05 Jun 2026
Dis nie maklik om ’n hawelose kat in Bloemfontein te wees nie – om onbemind te wees deur mense en uiterste weersomstandighede soos koue, hitte en reën te weerstaan.
Hierdie diere word deur hongersnood, infeksies, aanvalle deur ander diere en ook menslike boelies en skurke in die gesig gestaar. Straatkatte is diere wat buite gebore of deur mense in die steek gelaat is.
Zola Saunders (80) van Bloemfontein is ’n ware vlerkgooier oor verwerpte katte in die kompleks waar sy woon. Vyf jaar gelede het sy sewe katte begin voer wat in die kompleks deur mense agtergelaat is waar slegs honde welkom is.
Nadat sy ’n groot skenking aan ’n wildekatte-organisasie in die stad gemaak het om die sewe katte te steriliseer, is slegs twee mannetjies gevang en gesteriliseer wat nooit weer teruggekom het nie. Intussen het die eens klein kolonie in haar blyplek tot 30 katte aangeteel.
Zola glo aan die TNR-metode van vang, steriliseer en vrylaat. ’n Jaar gelede het sy een oggend wakker geword en buite oral dooie katte opgetel. Iemand het hulle vergiftig. Hierdie wreedheid was vir haar uiters ontstellend.
“Katte is my lewe,” vertel Zola. “My kinders woon in Gauteng en hulle wil my graag soontoe laat trek. Ek is glo broos, wat ek besef ek is, want ek het al ’n paar keer geval.
“Ek sal egter nie trek voordat al my katkinders ’n liefdevolle, veilige plek gekry het nie. Dis vir my wonderlik om vir hulle te sorg al is hier ’n korporatiewe boelie wat wil hê ek moet ophou om hulle te voer.”
Kattehemel
Zola se 30 wolwange is nie meer wild nie. Sy het oor die jare ’n band met hulle opgebou. Haar woonplek is vir hulle ’n kattehemel.
Tanya Marais van Wolwange Charity – Whispers of a Feral Cat wat bekend is vir haar stalletjie Kattegat by die Boeremark, kuier gereeld by Zola. Sy sê sy het al van Zola se babakatjies suksesvol by gesinne geplaas. Sy sal graag die volwasse katte ook wil uitplaas by mense wat baie geduld en liefde sal gee sonder om dadelik iets terug te verwag.
“Ek sal hulle wil uitplaas by mense wie se aanraking sag is soos dié van tannie Zola. Dis net spesiale mense soos sy wat katte wat deur eienaars verwerp en agtergelaat is, ’n derde kans op lewe gee.”

Morné van Rooyen het mettertyd vyf buitekatte aangeneem, maar Svettie en Bollas het weggeloop omdat hulle toegelaat is om buitentoe te gaan. Fiela Vlooi (foto), Flaffie en Spikkel word nou streng op die erf gehou. Foto verskaf
Tanya se Wolwange Charity is in Junie 2025 begin en is ’n organisasie sonder winsoogmerk. Sy neem babakatjies vanaf vyf weke in, maak gesond wat siek is en heel wat stukkend is.
“Die Vader het nog altyd vir my die regte aanneemmense gestuur, mense wat aangaan om ’n stewige fondasie vir hulle te bou, wat aangaan waar ek gestop het. Ons het van Januarie 2026 meer as 200 katte ontvang en gesteriliseer. Die nood onder katte in Bloemfontein is massief en ons kry daagliks katte wat mishandel is.
‘My belofte aan die katte onder my sorg is dat ek hulle nooit sonder heenkome sal laat nie’
“Ek weet ons kan nie almal red nie. By Wolwange het ons drie nuwe babas met spesiale behoeftes wat nie by gesinne geplaas sal word nie. Een van hulle het ‘cleft foot syndrome’, is so gebore en beweeg slegs op twee beentjies rond. Nog een is blind en daar is ook een met neurologiese probleme.”
Tanya sê dis bykans onmoontlik om al die katte in Bloemfontein te red. Vir haar is dit van betekenis om te red wat sy kan. Mense help om haar regop en sterk te hou as sy stukkend voel oor die wreedhede wat aan katte gedoen word.
“My belofte aan die katte onder my sorg is dat ek hulle nooit sonder heenkome sal laat nie, dat hulle ’n veilige plek sal hê waar hulle kan slaap met vol magies.”

Bloemfontein wemel van katkolonies. Dit is nie maklik om ‘n hawelose kat in die Rosestad te wees nie. Foto verskaf
In Bloemfontein wemel dit van katkolonies – by ondernemings, in buurte, by woonkomplekse, ouetehuise, die spoorweë, die industriële gebiede, hospitale en landbougebiede om die stad. Die Universiteit van die Vrystaat het selfs al ’n spesiale program begin om die wildekatte op of naby die kampus te bestuur.
Volgens inligting in die media volg die UV ook die TNR-program. Die probleem met katkolonies in die Rosestad is oorbevolking. Straatkatte is verwerp of in die steek gelaat deur mense en baie kolonies is die nageslagte van verwerpte katte wat nou onbeheerd aanteel.
Sien om na ‘buitekatte’
OFM Nuus se nuusredakteur, Morné van Rooyen, ’n katte-pa duisend, het sy eie verhale oor verwerpte katte. Hy vertel hy aanvaar verantwoordelikheid vir ’n kolonie “buitekatte”, soos wat hy hulle noem, in Bloemfontein-Sentraal.
“In my vorige woonstelblok woon ’n spannetjie katte waaroor ek my ontferm het nadat twee inwoners wat hulle voor my kos gegee het, verhuis het.”
In 2024 het hy met Marike Brönner van Feral Cat Care NPC gereël om die katte te laat vang, te steriliseer en terug te bring na die blok.

Flaffie (links) en Spikkel op pad na hul nuwe huis nadat ‘n kathater dit vir hul eienaar ondraaglik gemaak het in die woonstelblok waarin hulle grootgeword het. Foto: Morné van Rooyen
“Marike het 13 katte gevang, van wie vyf dragtige wyfies was. Ongelukkig het die een wyfie weggekom en daarna nog ’n paar keer kleintjies gehad.” Van dié kleintjies het dit nie gemaak nie omdat hulle nie toegerus is om buite te oorleef nie.
“Ek het Flaffie by my ingeneem nadat al drie sy sibbes dood is en maande later vir Fiela Vlooi, die enigste katjie uit ’n daaropvolgende werpsel wat te voorskyn gekom het nadat hulle ma die kleintjies iewers in plantegroei op die perseel gehad het.
‘Dit het so erg geraak dat ek besluit het om te trek’
“Ek het dit baie geniet om saans tyd met die kolonie deur te bring wanneer ek vir hulle ’n blikkie katkos gegee en hulle pilletjies en water aangevul het, maar ongelukkig het dit later amper onmoontlik geraak.”
Mede-inwoners het algaande meer en meer vyandig teenoor hom en die katte geraak. “Dit het so erg geraak dat ek besluit het om te trek. Die plan was om ten minste ’n paar van die katte saam te neem, maar dis feitlik onmoontlik om buitekatte te hervestig.”
Morné het gereël dat hulle steeds versorg word, maar hy mis sy tydjies saam met hulle. “Al sal hulle seker nooit weet hoe dit voel om rustig in ’n huis te woon nie, was dit vir my lekker om vir hulle te wys iemand gee om en dat alle mense nie skurke is wat tot elke prys vermy moet word nie.”
Mense wat katjies wil aanneem, kan Tanya by Wolwange Charity by 082 090 7674 bel.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Skakel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

