Inspiration
Waar gaan jou kind beste inpas, tuisonderrig of gewone skool?─── 11:00 Wed, 22 Jul 2026
Leanie van der Merwe gesels met Pulane Nel-Sekepe oor al die dinge van tuisonderrig waaraan mense nie noodwending dink nie, en hulle bespreek ’n paar geaardhede van kinders wat beste sal pas by die verskillende skoolmediums.
Leanie is ‘n tuisonderrigma van twee tienerseuns wat reeds die afgelope tien jaar met kinders en ouers werk as ‘n tutor, en verskaf opvoedkundige ondersteuning. Sy bied klasse aan in kritiese en kreatiewe denke en is betrokke by ‘n skool in Bloemfontein, waar sy die senior studente voorberei om hulle internasionale Engels-eksamens suksesvol te voltooi.
Van die introverte kind tot die ekstrovert; van die kind wat floreer in spansport tot die neurodiverse leerder – dit gaan nie noodwendig oor gewone skool teenoor tuisonderrig nie. Soms gaan dit bloot oor hierdie skool teenoor daardie skool.
Leanie beklemtoon dat daar nie ’n eenvoudige benadering is wanneer dit by onderwys kom nie. Elke kind is uniek, met sy of haar eie persoonlikheid, sterk punte en behoeftes.
As ouer is dit belangrik om met jou kind te praat en te besef dat nie elke skoolomgewing vir elke kind sal werk nie. Die uitdaging is om die skool, die onderrigbenadering en die kurrikulum te vind wat die beste by jou kind se geaardheid, leerstyl en unieke behoeftes pas.
