Inspiration
Oos-Vrystaatse vrou vasgevang in dwelms – gee nou ander hoop─── SUSAN MARÉ 12:33 Thu, 01 Oct 2026
’n Voormalige dwelmverslaafde en oudsportster van die Oos-Vrystaat vertel vandag haar storie vir die wêreld om mense te motiveer om weg te breek uit dié hel.
Dit het op ’n huispartytjie begin met baie mense om haar. Sy was 21 jaar oud en dit was daardie één keer, haar eerste probeerslag met kokaïen, wat fataal was. Dit was onmiddellike verslawing.
Arine Nel van Bethlehem was dadelik in ’n net gevang weens die geweldige euforie en lekkerte waarvoor dwelms so bekend is. Die volgende 17 jaar was traumaties vir haar, asook vir haar vriende en familie. Sy het van rehabilitasiesentrum tot rehabilitasiesentrum geswerf en letterlik alles in haar lewe verloor.
Sy het in 2008 aan die Universiteit van Pretoria gegradueer en is as prokureur toegelaat. Van 2006 to in 2012 het sy as prokureur by verskeie regsfirmas in Pretoria gewerk.

Arine Nel se eerste probeerslag met kokaïen was fataal. Foto verskaf
As begaafde sportster het sy van 2001 tot 2006 vir Tuks se netbalspan gespeel en selfs vir die nasionale o.21-span as junior Springbok. “Op 21 jaar was ek net ’n gewone meisie met dieselfde drome en doelwitte as enige ander vrou van daardie ouderdom. Nadat ek kokaïen ontdek het, het ek dit gedurende my hele studietydperk gebruik.
“Tot en met 2012 was ek ’n funksionele verslaafde, as mens dit so kan noem. In dié jaar is ek egter vir die eerste keer in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem. Dit is waar die hel eers behoorlik losgebars het.” Sy het na 2012 ook aan metamfetamien (Tik) verslaaf geraak.
“Ek het geleidelik alles begin verloor, totdat ek op die ou einde met absoluut niks oorgebly het. Ek kon nie ’n werk behou nie en het van die een rehabilitasiesentrum na ’n ander getrek; ek was in en uit psigiatriese hospitale.
“Eindelik het ek in 2018 vir tien maande in die tronk beland. Ek was vir jare vasgevang in dwelms. Bo alles was ek in verskeie verhoudings waar ek verbaal en fisiek mishandel is. Ek weet presies hoe dit voel as ’n man jou so stukkend slaan dat jy net wil opgee om te leef.”
Vandag vertel sy haar storie vir die wêreld om mense te motiveer – jonk en oud. Sy vertel dit veral vir vroue wat in die selfde donker gat van verslawing en mishandeling is. Sy wil vir almal wys en bemoedig dat daar ’n lewe ná dwelms en tronkstraf is. “Ek wil vir mense hoop gee en aanmoedig dat Jesus alle verhoudings en probleme in jou lewe kan help oorbrug. Ek het vandag weer ’n gesonde, sterk verhouding met my hele familie wat vir my baie beteken.”
Arine sê niemand is van verslawing of mishandeling gevrywaar nie, want dit kan enige tyd met enigiemand gebeur. Mense moet egter altyd onthou – dit maak nie saak hoe diep jy geval het nie, ’n mens is nooit te ver of te diep vir God se genade nie.

Arine en Hannes Nel is in September getroud. Foto verskaf
“As Hy mý gebroke lewe, my loopbaan en my verhoudings met mense kon herstel, kan Hy dit ook vir jou doen. Daar is hoop, daar is genesing en daar wag ’n pragtige lewe vir jou aan die ander kant! My storie is ’n voorbeeld van God se genade.”
Arine is nou byna vier jaar sober. Die tronk lê agter haar en sy kyk gelowig vorentoe. Sy is op 5 September vanjaar met Hannes Nel van Bethlehem, ’n gerehabiliteerde alkoholverslaafde, getroud. “Die Here is ons Heelmaker en het ons vir mekaar beskik. Ons slegte seisoene is verby en ons is albei opgewonde oor wat voorlê. Alle eer aan God!”
Hulle vind inspirasie in die Bybelse belofte in Joël 2:25: “En ek sal julle vergoed vir die jare wat die treksprinkaan, die kaalvreter en die afknyper verslind het …”
Nasionale statistieke
Arine beplan om in die toekoms by skole en wie haar ookal vra, motiveringspraatjies aan te bied oor verslawing en hoe om dit te hanteer. Haar eerste praatjies is in Oktober by Hoeksteenkerk en die Hoërskool Reitz.
Nasionale statistieke oor die gebruik van afhanklikheidsvormende middels en verslawing van die Epidemiology Network on Drug Use (Sacendu) wys nagenoeg 13.3% van Suid-Afrikaners het al in hul leeftyd dwelms gebruik.
Sacendu samel data in van behandelingsentrums van oor die land heen. Hiervolgens word beraam dat sowat 15% van die bevolking ’n probleem met middelmisbruik het.
‘Alkohol bly een van die algemeenste misbruikte middels in die land’
Dagga (kannabis) is Suid-Afrika se algemeenste middel waarvoor mense behandeling soek, veral die jeug. By adolessente onder 20 jaar is dagga verantwoordelik vir 60% tot 72% van mense wat by rehabilitasiesentrums behandel word.
Nog ’n groot probleem is alkoholgebruik (14% tot 24%). Dit bly een van die algemeenste misbruikte middels in die land en wissel na gelang van die provinsie. Hoër persentasies van misbruik kom in die sentrale en noordelik streke voor. Sacendu sê nasionale navorsing toon alkoholmisbruik is die aandrywer in meer as 50% van geweld- en vervoerverwante sterftes.
Tik (12.8% tot 16%) is ’n reuse-probleem in Suid-Afrika, veral in die Wes-Kaap en Oos-Kaap waar dit dikwels die dominante middel by opnames is. Dit is ook een van die gevaarlikste dwelms in die land.
Die gebruik van heroïen/opioïede, insluitend Nyaope/Sugars (9.2% tot 19%), wissel drasties per streek. Heroïenmisbruik, dikwels geneem as nyaope of wunga in die townships, is veral in die noordelike provinsies baie hoog. Kokaïen/crack-kokaïen (9.6%) se hoogste voorkoms is in groot stedelike gebiede soos in Gauteng en Kaapstad.
Nog ’n riller is mense se verslawing aan toonbankmedikasie (2,6%). Dit is die misbruik van pynstillers, slaappille en hoesstroop (wat kodeïen bevat) wat wêreldwyd én plaaslik toeneem. ’n Rede hiervoor is moontlik die maklike toegang daartoe.
Demografiese feite rondom verslawing in Suid-Afrika is dat die gemiddelde ouderdom vir middelafhanklikheid gedaal het tot 12 jaar en dat mans steeds die meerderheid is van mense wat gaan vir verslawingsbehandeling.
Noodlyne beskikbaar
Dwelm- of alkoholmisbruik maak tussen 60% en 80% van misdade in Suid-Afrika uit wat op die een of ander manier aan dwelm- of alkolholmisbruik gekoppel word.
Enigiemand wat hulp nodig het, ook vir ’n geliefde, kan die dwelmmisbruik-hulplyn skakel by 0800 12 13 14. Die 24-uur-noodlyn is tolvry en vertroulik. Dit word gratis verskaf deur die departement van maatskaplike ontwikkeling in vennootskap met die Suid-Afrikaanse Depressie- en Angsgroep (Sadag).
Vir alkoholverslawing, bel Alkoholiste Anoniem Suid-Afrika (AA) vir hulp of inligting oor plaaslike ondersteuningsgroepe by 0861 435 722. Besoek ook die AA se webtuiste.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn 066 487 1427.

