Inspiration
Polisiekantoor geverf: Matrikulant wys hoe een mens verskil kan maak─── DITEBOGO MOLEFI 09:29 Tue, 10 Nov 2026
Soms begin ’n gemeenskapsprojek met niks meer nie as ’n eenvoudige gedagte en iemand wat besluit om nie langer vir verandering te wag nie.
Dit is presies wat gebeur het toe Johaleine la Grange, ’n 18-jarige matrikulant van Hoërskool Dr. Malan in Meyerton, besluit het om aan die plaaslike polisiekantoor ’n nuwe voorkoms te gee.
Die idee het op ’n Vrydagaand ontstaan terwyl sy buite die Meyerton-polisiekantoor vir haar ouers gewag het. Haar ouers, albei polisiereserviste, was binne besig met administratiewe werk.
Johaleine sê die toestand van die gebou pla haar reeds geruime tyd, maar dié aand het sy begin dink aan wat gedoen kon word om dit te verbeter.
Sy het aanvanklik gewonder of hulle nie iemand kon nader om verf te skenk sodat hulle die gebou kon opknap nie.
“Maar toe dink ek, as ons iemand gaan vra, gaan dit dalk weer lank vat. Wat as ek daardie iemand is en self besluit om dit te doen?”
Sy het haar ouers van die idee vertel, maar hulle was aanvanklik onseker of hulle dit sou kon regkry.
Dit het Johaleine egter nie afgeskrik nie. Sy het ander polisiebeamptes, veiligheidspersoneel en lede van die gemeenskap begin nader.


Die Meyerton-polisiekantoor voor (onder) en ná die opknapping. Foto verskaf
“Hoe meer ek vir hulle gesê het ons kan dit doen, hoe meer het hulle begin saamstem. Hulle het gesien ek gaan dit nie daar los nie,” sê sy.
Met die hulp van haar ouers het Johaleine ’n lys van moontlike ondersteuners saamgestel en plaaslike ondernemings genader om bydraes te lewer.
Hoewel hulle aanvanklik ’n paar terugslae met toestemming en reëlings ervaar het, het die ondersteuning van ondernemings en die stasiebevelvoerder gehelp om die projek ’n werklikheid te maak.
Gemeenskap reageer positief
Op 17 Oktober het 17 vrywilligers hande gevat om die heining en ingangsmuur te verf, die voortuin skoon te maak, bome en bosse te snoei en rommel op te ruim.
Plaaslike ondernemings het verf, verfbenodigdhede, kos en drinkgoed geskenk om die dag moontlik te maak.
Vir Johaleine is die resultaat veel meer as net ’n mooier polisiekantoor. Sy sê dit maak haar trots om te sien hoe positief die gemeenskap op die verandering gereageer het.
Hoewel daar nog ’n paar afrondingswerkies is wat die span Saterdag (14/11) wil voltooi, sê sy die eindresultaat begin reeds lyk soos die prentjie wat sy aanvanklik in gedagte gehad het.
Haar boodskap aan ander jong mense is eenvoudig: Moenie wag dat iemand anders die verandering bring nie.
“Hulle moet dit eerder self probeer doen.”
Johaleine se inisiatief wys dat gemeenskapsbetrokkenheid nie noodwendig met groot planne of begrotings begin nie, maar met iemand wat bereid is om die eerste tree te gee.
• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn by 066 487 1427.

