On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Inspiration

Só oorleef ma’s die feestyd

───   DITEBOGO MOLEFI 11:11 Fri, 20 Nov 2026

Só oorleef ma’s die feestyd | News Article
Die Cooper-gesin is van links pa Gav met Saint, Christian, King, Neelah, ma Tamzin en Cassie. Foto verskaf

Vir ma’s kan die feestyd ’n wonderlike geleentheid wees om herinneringe te skep, maar tussen kinders besig hou, etes berei en die huishouding behartig, kan dit ook ’n oorlewingstryd word.

Vir Tamzin Cooper lê die geheim daarin om balans te vind, die onverwagte te verwelkom en te onthou dat ma’s ook ’n blaaskans nodig het. Dié ma van vyf beskryf haar gesin as haar grootste motivering.

Met orreltjiepypies wat telkens net twee jaar uit mekaar gebore is, is dit geen geringe taak om almal gedurende die lang skoolvakansie besig te hou nie. Cooper glo egter nie kinders se vermaak hoef duur te wees of dat elke aktiwiteit haarfyn beplan moet word nie. “Ek glo vas hulle moet soms verveeld wees, want dit moedig hulle aan om te dink.”

 Tamzin Cooper. Foto verskaf

In haar huis bestaan vakansiepret dikwels uit eenvoudige dinge: gesinsfliekaande, pieknieks binnenshuis, kolwyntjies bak, verf en kreatiewe maniere vind om alledaagse huishoudelike artikels te hergebruik.

“Ek skep eerder vir hulle die geleentheid om op hul eie manier kreatief te wees, maar kom ons doen dit saam en skep herinneringe.”

Beplan etes; verdeel verantwoordelikhede

Sy besef ook die feestyd kan bykomende druk op reeds knap huishoudelike begrotings plaas. Haar benadering is om ’n roetine te vestig, veral rondom etenstye. Almal eet saam en peuselhappies word vir die res van die dag beplan.

“Almal eet op dieselfde tyd,” verduidelik sy en voeg by dat vrugte en jogurt maklike peuselhappies tussen etes is.

Vir ma’s wat voel hulle was heeldag skottelgoed, het sy nóg ’n praktiese wenk: papierborde en weggooibare bekers vir ligter versnaperinge.


“Ek weet julle gaan peusel en so gereeld eet soos julle wil. Om dit vir my prakties te maak, kry julle vir daardie ligter happies ’n papierbord wat julle kan weggooi wanneer julle klaar is.”

Huishoudelike verantwoordelikhede word ook gedeel. Cooper glo kinders moet van kleins af leer dit is deel van grootword om in die huis te help. Huistakies word volgens hul ouderdomme verdeel.

“Ek verduidelik altyd aan hulle dat wie ook al hier is om my te help, nie alles vir hulle hoef te doen nie. Hulle het ook verantwoordelikhede. Ek wil hê hulle moet eendag verantwoordelike volwassenes wees.”

Ma’s het ook ’n blaaskans nodig

Afgesien van vakansiebedrywighede, maaltydbeplanning en praktiese huishoudelike wenke, sê Cooper die belangrikste deel daarvan om die feestyd te oorleef, is om na die persoon om te sien wat alles bymekaarhou.

Teen 19:30 of 20:00, wanneer die kinders gewoonlik in die bed is, kry sy eindelik ’n oomblik vir haarself. “Ek moet ’n koppie warm tee gaan drink,” sê sy laggend oor die talle kere wat sy vir haar tee gemaak het, net om te ontdek dit het koud geword voordat sy dit kon drink.

Haar raad aan ander ma’s is eenvoudig, maar betekenisvol: “Dis belangrik dat jou koppie vol bly. As jou koppie nie vol is nie, waaruit gaan jy dan skink?”

Sy moedig ma’s aan om hulp te aanvaar wanneer dit aangebied word, hetsy ’n familielid wat na die kinders omsien of bloot die geleentheid om ’n middag op die bank te ontspan.

Wanneer alles oorweldigend raak, herinner sy ma’s daaraan dat hulle hulself moet toelaat om ’n tree terug te gee. “As jy oorweldig voel, is die beste ding wat jy vir hulle kan doen om ’n bietjie afstand tussen jou en hulle te skep.”

Cooper hoop ma’s sal dié feestyd onthou hulle hoef nie alles self te doen nie. “Doen wat jy moet doen om te kry wat jy nodig het. Jy maak steeds deel van die hele prentjie uit.”

Dalk is dit die belangrikste boodskap vir die feestyd: Kinders het herinneringe nodig, nie volmaaktheid nie, en ma’s verdien dit om ook die vreugde te ervaar wat hulle so hard werk om te skep.

OFM News/Ditebogo Molefi sm

• Have a news tip to share? Phone or whatsapp the OFM News Hotline on 066 487 1427.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.