On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Ashmund
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

International

Indië in afwagting op eerste maanlanding

───   07:41 Sun, 16 Jul 2023

Indië in afwagting op eerste maanlanding | News Article
Die maanlanding sal slegs die tweede suksesvolle poging dié eeu wees, nadat China in 2009 suksesvol op die maan geland het. Foto: Twitter

Indië is in afwagting op die land se eerste maanlanding nadat hulle Vrydag 'n vuurpyl suksesvol gelanseer het – met 'n onbemande ruimtetuig – wat na verwagting in Augustus die maan sal bereik.

"Chandrayaan-3 skryf 'n nuwe hoofstuk in Indië se ruimteverkenning," het premier Narendra Modi, wat tans Frankryk besoek, getwiet. "Dit dra die hoop en drome van ons nasie."


As die res van die sending volgens plan verloop, sal die Chandrayaan-3, wat "Mooncraft" in Sanskrit beteken, tussen 23 en 24 Augustus veilig naby die maan se onverkende suidpool land. Dit sal slegs die tweede suksesvolle poging dié eeu wees, nadat China in 2009 suksesvol op die maan geland het. Slegs Rusland, die VSA en China kon voorheen 'n beheerde landing op die maanoppervlak vermag.

Die sending se koste beloop $74,6 miljoen – baie minder as dié van ander lande, en is ’n bewys van Indië se spaarsamige ruimte-ingenieurswese.



Indië se eerste maansending, Chandrayaan-1, het van 8 November 2008 af om die maan gewentel totdat dit op 27 Augustus 2009 kontak verloor het. Dit het ’n chemiese, mineralogiese en geologiese kaart in hoë definisie van die oppervlak geskep en die teenwoordigheid van watermolekules in die maangrond bevestig.

Chandrayaan-2 is in Julie 2019 bekendgestel, maar was slegs gedeeltelik suksesvol. Terwyl die wenteltuig vandag steeds sirkel en die maan bestudeer, het sy landingsmodule onklaar geraak.

Chandrayaan-3, wat 3 900kg weeg, het dieselfde doelwitte as sy voorganger – om 'n sagte landing op die maan se oppervlak te verseker. Die tuig het 'n sendinglewe van een dag op die maan of 14 dae op aarde.

Ná landing sal die tuig afrol en die nabygeleë gebied verken en beelde versamel wat na die aarde teruggestuur moet word vir ontleding.



"Dit is inderdaad 'n oomblik van glorie vir Indië. Dankie span ISRO dat julle Indië trots gemaak het," het Jitendra Singh, die junior minister van Wetenskap en Tegnologie, ná die lansering aan verslaggewers gesê.

Indië se ruimteprogram het aansienlik gegroei in grootte en momentum sedert in 2008 'n wenteltuig gestuur is om om die maan te wentel.

In 2014 het dit die eerste Asiatiese nasie geword wat 'n satelliet in 'n wentelbaan om Mars geplaas het, en drie jaar later het die ISRO 104 satelliete in 'n enkele poging gelanseer.



Indië werk ook daaraan om sy aandeel van twee persent van die wêreldwye kommersiële ruimtemark 'n hupstoot te gee deur private vragte in 'n wentelbaan te stuur vir 'n fraksie van die koste van mededingers.

Wetlike status

Hoewel die Sowjetse en Amerikaanse bemanningslede vlaggies van die twee lande op die maan geplant het, besit niemand enige deel van die maan nie. Rusland, die VSA, China en Indië het die Ruimteverdrag van 1967 onderteken, wat die maan en die hele buitenste ruimte "die besit van die hele mensdom" verklaar. Kragtens wetgewing word die maan slegs vir vreedsame doeleindes gebruik en word die oprigting van militêre vestings en wapens van grootskaalse vernietiging verbied.

In 1979 is ’n maanooreenkoms opgestel met die doel om die ontginning van die maan se hulpbronne deur enige land in te perk, hoewel nie een van die ruimtevaartlande dit onderteken het nie. Sommige mense het al daarop aanspraak gemaak dat hulle eiendom op die Maan besit, maar dit word nie as geloofwaardig beskou nie.

OFM Nuus

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.