On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

National

Speaker wil inhegtenisneming met interdik keer

───   12:42 Fri, 22 Mar 2024

 Speaker wil inhegtenisneming met interdik keer | News Article
Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, is met spesiale verlof. Foto: GCIS

“Gegewe die erns van die bewerings en die gepaardgaande uitgebreide aantygings in die media, het ek besluit om spesiale verlof te neem as Speaker van die Nasionale Vergadering.”

Die speaker van die Nasionale Vergadering, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, het Vrydagoggend (22/3) dokumente by die hooggeregshof in Pretoria ingedien vir ’n dringende interdik teen haar verwagte inhegtenisneming op aanklagte van korrupsie.

Luidens dié hofstukke is adv. Shamila Batoyi, nasionale direkteur van openbare vervolgings, en Bheki Cele, minister van Polisie, as eerste en tweede respondente aangewys.

Mapisa-Nqakula word daarvan aangekla dat sy R2,3 miljoen se omkoopgeld van ’n voormalige militêre kontrakteur aangevra het toe sy nog die minister van Verdediging was. Sy het sedertdien spesiale verlof geneem ná ’n klopjag op haar huis vandeesweek deur die NVG se ondersoekeenheid.

Die parlement het berigte verwerp dat die speaker Vrydag in aanhouding was. Mike Ramagoma, woordvoerder, sê mediaberigte is gegrond op ’n twiet van Bantu Holomisa, UDM-leier.

Hy het gesê Mapisa-Nqakula en haar gesin was by die huis en het sedert Dinsdag geen interaksie met die NVG se ondersoekdirektoraat gehad nie. Sy is steeds met spesiale verlof, en haar regspan sal enige verdere ontwikkelings in die saak kommunikeer.

Mapisa-Nqakula sê in ’n verklaring daar is geen formele kennisgewing van ’n inhegtenisnemingsbevel of kommunikasie oor ’n dreigende inhegtenisneming vir haar of haar regspan nie.

Nosiviwe Mapisa-Nqakula, speaker van die parlement. Foto: parliament.gov.za

“My prokureurs het die NVG egter proaktief in kennis gestel van my gereedheid om te voldoen en saam te werk indien die behoefte ontstaan. Gegewe die erns van die bewerings en die gepaardgaande uitgebreide aantygings in die media, het ek besluit om spesiale verlof te neem as speaker van die Nasionale Vergadering. Dit is onmiddellik van krag.

“Hierdie besluit deur myself is bedoel om die integriteit van die parlement te beskerm. Gevolglik sal ek dus ook nie die beplande 148ste sitting van die Inter-Parlementêre Unie (IPU) in Genève, Switserland, bywoon nie.

“Ek het ook my besluit om spesiale verlof te neem aan die ANC gekommunikeer. Ek hoop hierdie verklaring verduidelik my standpunt, bevestig my verbintenis tot die handhawing van die integriteit van my amp, en demonstreer my volle samewerking met die regsproses,” sê Mapisa-Nqakula gesê.

OFM Nuus cg/dg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.