National
Nuwe riglyne vir Bela dui op strategiese oorwinning vir Afrikaanse skole─── CHARNÉ VAN DER MERWE 11:33 Sun, 15 Jun 2025

Die nuwe riglyne vir die toepassing van die omstrede Wysigingswet op Basiese Onderwyswette (Bela) kan bestempel word as ’n "taktiese deurbraak" vir Afrikaanse skole.
Solidariteit, AfriForum en die Solidariteit Skoolondersteuningsentrum (SOS) het lank reeds bepalings in die Bela-wet teengestaan wat skole se taal- en toelatingsbeleide bedreig.
Die nuwe riglyne wat Donderdag (12/6) deur Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys, gepubliseer is, bevestig dat skole wat voldoende aansoeke ontvang wat in ooreenstemming is met hul bestaande taalbeleid nie gedwing kan word om dit te verander nie.
Siviwe Gwarube, minister van basiese onderwys. Foto: Suid-Afrikaanse regering
Die riglyne is die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas) en die Stigting vir Regte van Spraak en Gelykheid (Free SA) verwelkom.
Werner Human, hoofbedryfsbeampte van die Solidariteit Beweging, het dit ’n “groot taktiese oorwinning” genoem en beklemtoon dat die insette van AfriForum, Solidariteit en SOS ’n direkte invloed op die uitkoms gehad het. Hy sê baie Afrikaanse skole is reeds vol en die riglyne kan noodsaaklike beskerming bied vir hul voortbestaan en gehalteonderwys.
Hoewel die riglyne nie wetlik bindend is nie is hulle geanker in bestaande wetgewing en hofbeslissings, wat skole groter regsekerheid bied.
Gwarube het in Desember erken dat die Bela-wet nie duidelik is nie. Volgens Human is dit een van die seldsame gevalle waar so ’n volledige, gekonsolideerde onderwysbeleidsdokument uitgereik is.
Werner Human. Foto: Solidariteit Beweging
“Al dra hulle nie die volle gewig van regulasies nie, bied hulle ’n rasionele en gestruktureerde basis vir besluite. Om hulle te ignoreer kan tot regstappe lei."
Solidariteit, AfriForum en SOS glo hierdie riglyne sal help om toekomstige norme en standaarde in onderwysbeleid te vorm.
'n Konsepweergawe van daardie standaarde word binne twee maande verwag en sal waarskynlik die huidige bepalings insluit. Die stryd is egter nie verby nie. Hierdie groepe het dit duidelik gemaak dat hulle bereid is om regstappe te doen indien amptenare die riglyne oortree.
Solidariteit beplan ook om ’n praktiesegids te publiseer om skole te help om dit te verstaan en toe te pas.
“Hierdie riglyne verander nie die Bela-wet self nie,” sê dr. Dirk Hermann, uitvoerende hoof van Solidariteit. “Dit bied ’n mate van basiese beskerming vir Afrikaanse skole. Dit is nie perfek nie, maar dit help baie. Die Bela-stryd is nog lank nie verby nie.” Hy het ook gewaarsku Solidariteit sal nie huiwer om regstappe te doen teen enige amptenaar wat die riglyne verontagsaam nie.”
Dirk Hermann. Foto: Facebook/Dirk Hermann
Dr. Wynand Boshoff, VF Plus-LP en onderwyswoordvoerder, het hierdie versigtige optimisme beaam en sê die riglyne haal vir eers van die angel uit die wet. Hoewel hulle die magte van provinsiale hoofde van onderwysdepartemente beperk om in te meng met skoolbeleid los hulle nie alle bekommernisse op nie.
Boshoff het opgemerk dat die riglyne regte wat reeds beskerm word onder die Handves van Regte en Hoofstuk 1 van die Grondwet herbevestig soos vryheid van diskriminasie gegrond op ras, taal, godsdiens of seksuele oriëntasie. Terselfdertyd word die reg op moedertaalonderrig, waar prakties moontlik en die rol van provinsiale onderwyshoofde verduidelik.
“Dit is belangrik dat die riglyne spesifiseer dat besluite oor taal- en toelatingsbeleid die taaldemografie van die breër onderwysdistrik in ag moet neem, maar nie arbitrêr op individuele skole toegepas moet word nie.
Departementshoofde moet duidelike prosedures volg as hulle ’n skool se beleid wil verander, insluitend betekenisvolle konsultasie en redelike regverdiging,” sê Boshoff.
Dr. Wynand Boshoff. Foto: VF Plus
“Terwyl hierdie riglyne die ontwikkeling van meer gedetailleerde norme en standaarde sal beïnvloed, het hulle nie die status van wet nie. Toekomstige ministers kan nuwe riglyne uitreik sonder die parlement se goedkeuring.
Die VF Plus het die uitreiking van die riglyne verwelkom en sê dat hulle van die ernstigste bedreigings afweer. Boshoff waarsku dat dit slegs ’n tydelike verligting is: “Die riglyne verminder die hitte onder die pot waarin die paddas gekook word effens – maar die pot is steeds op die stoof."
OFM Nuus dg