On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings Oscar
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Gerben
Listen Live Streams

National

Boervrou van Carolina se toestand steeds kritiek ná plaasaanval

───   CHARNÉ VAN DER MERWE 13:16 Tue, 14 Oct 2025

Boervrou van Carolina se toestand steeds kritiek ná plaasaanval | News Article
Rolé Uys. Foto verskaf

'n Vrou van Mpumalanga veg om haar lewe in die hospitaal nadat sy ernstig beseer is.

Rolé Uys (70) van Carolina is Vrydag (10/10) deur rowers aangeval terwyl sy by haar beeste was en haar toe na haar huis gedwing het. Die aanvallers het haar vasgebind, kookwater oor haar gegooi en meubels op haar gepak.

Sy is van die hospitaal op Carolina na die Wilgers-hospitaal in Pretoria oorgeplaas. Die DA veroordeel die aanval as “onbegryplik” en beklemtoon plattelanders bly uiters kwesbaar.

“Boere en hul gesin leef steeds in vrees, dikwels geïsoleer en verlaat deur diegene wat met hul beskerming getaak is,” sê Willie Aucamp. “Elke nuwe aanval skeur die samehorigheid van landelike gemeenskappe en (stel) voedselsekerheid in gevaar.”

Uys se aanval is die 14de aangemelde plaasaanval in Oktober, sê Ronnie Schilling, streekbestuurder vir die Transvaalse Landbou-unie (TLU) se oostelike streek.

Oorval en in haar huis gedwing

“Uys en twee van haar werkers het Vrydagaand ’n koei gaan help toe gewapende aanvallers toeslaan. Sy het vir die werkers gesê om by die kraal te bly terwyl sy iets uit haar bakkie gehaal het. Daardie oomblik kon hulle van erger skade gespaar het.”

Hy sê Uys is oorval en in haar huis ingedwing terwyl die aanvallers haar en die twee werkers in haar kombuis vasgehou het. Sy is toe met kookwater gegooi, vasgeketting, met vragnette bedek en meubels is bo-op haar gestapel voordat die aanvallers in haar voertuig gevlug het.

“Die polisie het na bewering onraad vermoed nadat ’n bakkie wat vermoedelik aan Uys behoort, Saterdag in die vroeë oggendure op die pad tussen Carolina en Badplaas gesien is. Beamptes het kort daarna met ’n agtervolging begin,” sê brig. Donald Mdhluli, Mpumalanga-polisiewoordvoerder. Niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Plaashekke was oop

Volgens Mdhluli is beamptes intussen na Uys se woning gestuur. “Met hul aankoms het hulle afgekom op die oop plaashekke en die bakkie was weg. Die huis self was gesluit. 'n Buurman is na bewering genader om hulp en Uys is later in ’n kritieke toestand aangetref.”

Hy sê die aanval word hanteer as ’n huisroof (plaasaanval), ontvoering en aanranding met die opset om ernstig te beseer. Van die gesteelde items sluit in ’n vuurwapen en selfoon. 

Hy beskryf die aanval as “absoluut wreed en onaanvaarbaar”. Dit is die tweede keer in net twee maande dat Uys geteiken word. “Dit kan nie so aangaan nie. Die veiligheid van boere en landelike gemeenskappe moet onmiddellik geprioritiseer word.” 

Prioriteitsmisdade 

Die DA is ook bekommerd en moedig die polisie aan om beslissend op te tree. “Plaasaanvalle, plaasmoorde en veediefstal moet as prioriteitsmisdade hanteer word. Misdadigers wat hierdie barbaarse dade pleeg moet vinnig voor die gereg gebring word en die swaarste straf kry.”

Die gewelddadige aanvalle op boere kom al meer voor wat die belangrikheid van strenger beskermingsmaatreëls in landelike gebiede beklemtoon.

• Het jy ’n nuuswenk om te deel? Bel of whatsapp die OFM Nuus-lyn: 066 487 1427.

OFM Nuus/Charne van der Merwe dg

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.