National
Politieke leiers praat op menseregtedag─── 16:38 Sun, 21 Mar 2010

Sharpville - Die leier van die UDM, Bantu Holomisa, sê ‘n ekonomiese revolusie is die enigste ding wat Suid-Afrika van rassisme sal bevry. Hy het op die Menseregtedag-viering én 50 jaar herdenking van die Sharpville-slagting in Gauteng gesê ‘n radikale ekonomiese hervorming moet plaasvind om die soort maatskaplike ontploffing af te weer wat destyds met die Codesa-onderhandelings reggekry is. Regeringsleiers en afgevaardigdes, insluitend adjunkpresident Kgalema Mothlanthe, het die massas toegespraak as deel van die vieringe. DA-leier, Helen Zille het onlangs in 'n verklaring gesê mense behoort met die viering van Menseregtedag te peins oor die werklike dreigement teen menseregte en wat gedoen moet word om dit teen te staan. Sy sê ons reg om vry te leef word ingeperk word deur haatspraak wat geweld aanmoedig. ANC jeugliga leier Julius Malema het gister by 'n Menseregte viering in Mpumalanga die skare toegespreek, waar hy wéér sy omstrede "Kill the Boer" lied gesing het. Hy het ook die media daarvan beskuldig dat hulle ANC-leiers en prominente swart politici teiken.Intussen het president Jacob Zuma gister tydens 'n onderhoud op eTv se nuuskanaal gesê hy glo Malema het potensiaal om 'n goeie leier vir die party te wees. Zuma het ook gesê die omstrede lied, Kill the Boer, is 'n lied uit ons land se worstelingstydperk en is onuitsluitlik deel van ons geskiedenis. Hy sê egter die regerende party hoef nie noodwendig in 'n slegte lig geplaas te word oor Malema se haatspraak-debakel nie. En Adjunk kuns en kultuur minister, Paul Mashatile, wat ook by die menseregtedag-vieringe was, sê liedere waarby nie-ANC-lede aanstoot vind, moet hersien word. Mashatile sê Suid-Afrikaners moet saamstaan en kan selfs nuwe opbouende liedere wat die post-apartheid era verteenwoordig, skep.
Sapa, Nuusflits, News24, eTV