Agriculture
Nog heelwat reën vir Sentraal SA voorspel─── ELSABÉ RICHARD 05:30 Wed, 16 Feb 2022
Sentraal Suid-Afrikaners kan, ná dié week se reën, nog reën in Maart verwag.
Johan van den Berg, ‘n onafhanklike landbouweerkundige, sê dis nog moeilik om in hierdie stadium te voorspel hoe swaar die neerslae gaan wees.
Sien onderstaande PODCAST
Hy verduidelik op die kort termyn bestaan daar ‘n kans vir reën oor groot dele van die Vrystaat, sowel as die Noord-Kaap, met ‘n verwagte 10mm reënval. Die oos-, sentraal- en suidelike dele van die Vrystaat sal na verwagting tussen 20mm en 40mm reënval ontvang.
Wat langtermyn-reënvoorspellings betref, sê Van den Berg daar is minstens drie weerstelsels wat reën oor die Vrystaat, Noord-Kaap en Noordwes kan veroorsaak.
OFM-nuus het voorheen berig dat, in Desember 2021, sowat 400mm reën in sekere dele van die Vrystaat in sentraal Suid-Afrika voorgekom het.
Volgens Van den Berg én Vrystaat Landbou (VL) het sommige graanboere redelike versuipskade aangeteken.
Dr. Jack Armour, kommersiële bestuurder van VL, het in Januarie met OFM-nuus foto’s gedeel wat vanuit 'n helikopter geneem is, wat oor die gebiede van Hoopstad, Bothaville, Wesselsbron en Bultfontein in die Vrystaat vlieg en wys hoe deurdrenk landerye is as gevolg van die voortdurende reënval.
Ten spyte daarvan dat die reënval in ander provinsies verwelkom word - veral deur boere wat in droë gebiede in Noordwes en die Noord-Kaap geleë is - is boere in die Vrystaat swaar getref.
Waarskuwings
Omdat baie reën voorgekom het en gras baie lank gegroei het, waarsku Van den Berg dat brandgevare vanjaar baie hoog gaan wees. Alhoewel dit nog in hierdie stadium baie nat is, maan hy boere om nóú al brandtoerusting gereed te kry in afwagting op ‘n moontlike aktiewe brandseisoen later vanjaar.
OFM-nuus
