Agriculture
Grondgesondheid is belangrik vir optimale gewasverbouing─── ELSABÉ RICHARD 05:00 Wed, 10 Aug 2022
Grondgesondheid is een van die belangrike aspekte wat produsente in ag moet neem voordat hulle begin plant.
Volgens dr. Elmarie Kotzé, senior lektrise by die Universiteit van die Vrystaat, kan dit moeilik wees om grondgesondheid te meet, maar sy voeg by dat daar verskeie maniere is om vas te stel of grond gesond is of nie.
See PODCAST below
Kotzé beskryf grondgesondheid as die grond se potensiaal om biologiese produktiwiteit te onderhou. Grondgesondheid word ook sinoniem met die woord grondkwaliteit gebruik. Grond moet ook in staat wees om plant- en dieregesondheid te bevorder. Gesonde grond kan ook lei tot winsgewendheid, sowel as produktiwiteit.
ALSO READ: Worm farming can contribute to soil health, help alleviate poverty
Om die gesondheid van grond direk te meet kan baie moeilik wees, sê Kotzé, en daarom kyk mense eerder na indirekte aanduidings, soos oesopbrengs, die kleur van die grond, en waterkwaliteit, onder meer, om die gesondheid van die grond vas te stel. Daar kan ook na chemiese aanduidings gekyk word, soos die grond se ph en koolstofvlakke, sowel as biologiese aanduidings soos organiese materiaal, en of daar erdwurms in die grond voorkom, ensovoorts.
Kotzé deel verder dat goeie grondgesondheid beter struktuur aan die grond verskaf en wortel-ontwikkeling bevorder.
Tekens van gesonde grond
“In gesonde grond help veral die koolstof wat jy in organiese materiaal kry. Dit help om porieë en spasies in die grond te skep, en in daai spasies word water en lug gestoor. Hierdie porieë vorm dan klonte en dit help dat plant- en grondorganismes kan asem haal en maklik kan beweeg.
“In gesonde grond word water baie makliker geabsorbeer en gestoor in hierdie porieë, en as hierdie porieë gevul word met water dan, drein die oormaat water gewoonlik weg na jou dieper grondlaag toe vir latere gebruik. Die sponsagtigheid wat 'n mens voel met grondgesondheid, is as gevolg van hierdie porieë wat jy in die grond het,” sê Kotzé.
Tekens van ongesonde grond
“Meestal gekompakteerde grond, of as jy nie vog in jou grond het nie. Gekompakteerde grond is hard en solied en dit beperk die beweging van jou grondorganismes en natuurlik die groei van jou plantwortels. So, water kan nie infiltreer nie en dit kan jou kosbare bogrond verwyder in die vorm van erosie, en plant- en grondorganismes wat dors is mis dan uit op daardie kosbare bron van water."
Sy raai boere aan om van organiese materiaal gebruik te maak om te verseker dat grond gesond of vrugbaar bly. Organiese materiaal dien hoofsaaklik as die voedselbron vir organismes wat ‘n belangrike rol in die kwaliteit en gesondheid van grond speel.
