On Now
Weekdays 00:00 - 05:00
Early Mornings OFM
Show Background
NEXT: 05:00 - 06:00 The Agri Hour with Michael
Listen Live Streams

Agriculture

Oesskatting: Kommersiële mielie-oes 2% laer geskat

───   17:46 Wed, 28 Aug 2024

Oesskatting: Kommersiële mielie-oes 2% laer geskat | News Article
Die produksieskatting vir geelmielies is afwaarts aangepas. Foto: Getty Images

Die verwagte mielie-oes vir 2024 is verlaag, terwyl sonneblomsaad en sojabone onveranderd bly.

Die jongste skatting van die Oesskattingskomitee het aangedui dat die verwagte kommersiële mielie-oes vir 2024 op 13,060 miljoen ton gestel is. Dit is 2,05% of 273 400 ton laer as die vorige skatting van 13,333 miljoen ton. Die mielie-opbrengs word tans op 4,95 ton per hektaar geskat. Hierdie syfers toon ’n 20,51%-afname vergeleke met die 2023-oes, wat 3,370 miljoen ton minder is.

“Die drie groot mielieproduserende provinsies – Vrystaat, Mpumalanga en Noordwes – sal na verwagting saam 79% van die totale oes vir 2024 lewer.”

Wit- en geelmielies

Die produksieskatting vir witmielies is verlaag na 6,188 miljoen ton, wat ’n afname van 2,51% of 159 600 ton is, teenoor die vorige skatting van 6,348 miljoen ton. Die geskatte oppervlakte vir witmielies is 1,555 miljoen hektaar met ’n opbrengs van 3,98 ton per hektaar.

Vir geelmielies is die produksieskatting aangepas na 6,872 miljoen ton, wat 1,63% of 113 800 ton laer is as die vorige skatting van 6,986 miljoen ton. Die geskatte oppervlakte vir geelmielies is 1,082 miljoen hektaar met ’n verwagte opbrengs van 6,35 ton per hektaar.

Sonneblomsaad en sojabone

Die produksieskatting vir sonneblomsaad bly onveranderd op 649 250 ton. Die geskatte oppervlakte vir sonneblomsaad is 529 000 hektaar, met ’n verwagte opbrengs van 1,23 ton per hektaar.

Sojabone se produksieskatting het ook onveranderd gebly op 1,779 miljoen ton. Die oppervlakte vir sojabone is 1,151 miljoen hektaar, en die verwagte opbrengs is 1,55 ton per hektaar.

Grondbone, sorghum en droëbone

Die geskatte produksie van grondbone is effens laer, met ’n afname van 2,06% tot 52 645 ton. Die geskatte oppervlakte vir grondbone is 41 200 hektaar met ’n opbrengs van 1,28 ton per hektaar.

Sorghum bly onveranderd op 95 830 ton, met ’n geskatte oppervlakte van 42 100 hektaar en ’n opbrengs van 2,28 ton per hektaar.

In die geval van droëbone is daar ’n klein styging in produksie na 50 495 ton, wat ’n toename van 1,89% of 935 ton is in vergelyking met die vorige skatting. Die geskatte oppervlakte vir droëbone is 39 550 hektaar, met ’n opbrengs van 1,28 ton per hektaar.

Die agtste produksieskatting vir somergewasse word op 26 September 2024 verwag.

Intussen is die koringproduksie vir 2024 seisoen ook verlaag.

“Die verwagte koringproduksie vir die 2024-seisoen is geskat op 1,903 miljoen ton, wat ’n afname van 7,16% of 146 720 ton is in vergelyking met die vorige seisoen se oes van 2,050 miljoen ton. Die gemiddelde opbrengs word beraam op 3,76 ton per hektaar,” aldus die komitee se verklaring.

In die Wes-Kaap, die grootste koringproduserende provinsie, word die produksie geskat op 1,067 miljoen ton, wat 16 800 ton minder is as die 1,084 miljoen ton wat in die vorige seisoen geproduseer is. Dit verteenwoordig 56% van die totale koringproduksie.

“In die Noord-Kaap is die verwagte produksie 277 400 ton, 14 600 ton minder as die vorige seisoen se 292 000 ton, wat 15% van die totale oes uitmaak. Die Vrystaat sal na verwagting 227 500 ton lewer, wat ’n afname van 53 300 ton is in vergelyking met die vorige oes van 280 800 ton, wat 12% van die totale produksie verteenwoordig.”

Die geskatte oppervlakte vir koringaanplantings is hersien na 506 300 hektaar, wat 4 300 hektaar meer is as die vorige skatting van 502 000 hektaar. “Die Wes-Kaap het 368 000 hektaar beplant (73%), terwyl die Vrystaat 50 000 hektaar (10%) en die Noord-Kaap 38 000 hektaar (8%) bydra tot die totale oppervlakte.”

Die tweede produksieskatting vir wintergewasse sal op 26 September 2024 vrygestel sal word.

OFM Agri cg


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.