On Now
Weekends 12:00 - 16:00
Saterdag Siësta Laurika
NEXT: 16:00 - 20:00 OFM Decades with James
Listen Live Streams

Agriculture

Optimisme oor 2024/25-somerproduksieseisoen

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Wed, 13 Nov 2024

Optimisme oor 2024/25-somerproduksieseisoen | News Article
Sihlobo se opwinding was opnuut aangewakker nadat hy met ’n onlangse besoek aan Witrivier oral boere druk besig sien werk het op landerye. Foto: Getty

Ná ’n uitdagende 2023/24-somerseisoen, waarin Suid-Afrika se graan- en oliesaadproduksie met 24% gedaal het tot 15,39 miljoen ton, toon nuwe data daar is hoop op herstel.

Volgens data wat op 29 Oktober deur die Oesskattingskomitee bekend gemaak is, beplan boere om 4,47 miljoen hektaar te plant – ’n toename van 1% vanaf die vorige seisoen.

Wandile Sihlobo, hoofekonoom by Agbiz, het onlangs verduidelik dat alhoewel baie mense paniekerig is oor die droë toestande en beperkte reënval, daar steeds genoeg tyd is vir reën.

Sihlobo se opwinding was opnuut aangewakker nadat hy met ’n onlangse besoek aan Witrivier oral boere druk besig sien werk op landerye. Hierdie is tans die geval in talle aanplantingsgebiede, regoor Suid-Afrika. “Waarheen jy ry, blyk dit of alles bruin is. Dit beteken dat lande voorberei of geplant word, in sommige besproeiingsgebiede is daar selfs gewasse wat reeds opkom.”


Die data toon boere beplan om 1,58 miljoen hektaar met witmielies aan te plant – ’n styging van 1% – terwyl aanplantings vir geelmielies op 1,06 miljoen hektaar staan, wat ’n afname van 2% op ‘n jaargrondslag is. Die totale mielie-aanplantings styg met 0,2% tot 2.64 miljoen hektaar, wat in lyn is met die vyfjaar-gemiddeld.

Volgens Sihlobo dra die wisseling tussen aanplantings van wit- en geelmielies by tot die markte se dinamika, aangesien witmieliepryse tans hoër is as dié van geelmielies. “Die witmieliepryse is sowat R1 000 hoër, deels omdat geelmielies wyd beskikbaar is op die wêreldmark, terwyl witmielies minder voorkom.”

Aanplantings van sojabone styg na ’n rekordtoename van 1,2 miljoen hektaar, ’n styging van 0,2%. Die sonneblomsaad-aanplanting styg met 2,1% na 540 000 hektaar. Sorgum, ’n gewas wat veral in droë toestande presteer, wys ’n groot sprong van 28% na 54 000 hektaar. Droëbone toon ook ’n toename van 14% en staan op 45 000 hektaar.

Sihlobo het beklemtoon dat ’n kombinasie van laer insetkostes en gunstige weerstoestande hierdie optimisme onder boere aanwakker. “Kunsmispryse is met 10% laer, onkruiddoders is met sowat 20% af, en plaagdoders met 15% verlaag, wat groot verligting vir graanboere se kostes bring.”

Nog ’n groot faktor vir boere se optimisme is die voorspelling van goeie reënval wat binnekort verwag word, asook die verwagte La Niña-toestande wat meer reën in die volgende paar maande kan bring. Sihlobo het bygevoeg indien hierdie voorspellings akkuraat is, die 2024/2025 seisoen beter resultate vir Suid-Afrikaanse boere kan lewer.

“Al die faktore wys dat daar hoop is vir ’n beter oesjaar,” het Sihlobo afgesluit.

OFM Agriculture/Robyn Schutte

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.