On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki, Kayla and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Jong ekonoom vereer met top-toekenning by ‘Junior Agriwriters Awards’

───   ROBYN SCHUTTE 05:00 Mon, 25 Nov 2024

Jong ekonoom vereer met top-toekenning by ‘Junior Agriwriters Awards’ | News Article
Johann Pretorius, uitvoerende hoof: CRA Group Media, by die wenners van die 2024 Junior Agriwriters-toekennings, Heleen Viljoen (tegnies), Carla Myburg (algemeen) en Andries Wiese, nasionale besigheidsontwikkelingsbestuurder by Hollard Insurance. Foto verskaf

Heleen Viljoen, ’n ekonoom by Graan SA, het onlangs groot lof ontvang vir haar wenstuk in die tegniese kategorie van die Hollard Farming Portal Junior Agriwriters Awards.

Die kompetisie, aangebied deur Hollard Agri en CRA Media, erken jong landbouskrywers en poog om vars perspektiewe en insiggewende skryfwerk in die sektor te bevorder.

Viljoen se wenartikel het gefokus op die tegniese en soms misverstaande onderwerp van koringinvoertariewe. Sy verduidelik: “Ons koringprodusente in die Wes-Kaap is tans onder groot druk, en hierdie tariewe is dikwels verkeerd verstaan. Dit was vir my belangrik om die feite reg oor te dra en te wys hoe die proses in Suid-Afrika se beste belang werk.”

Die skryf van die artikel was nie sonder uitdagings nie. “Om so ’n tegniese stuk te skryf, verg deeglike navorsing en ’n diep begrip van die geskiedenis en werking van invoertariewe. Ek moes verseker dat die inligting akkuraat en verantwoordelik oorgedra word.”


Volgens Andries Wiese van Hollard het die deelnemers se werk uitgestaan vir hul professionele standaard: “Die gehalte van skryfwerk was uitsonderlik – vergelykbaar met, en selfs beter as, sommige van die professionele werk in die industrie vandag.”

Viljoen beskou haar toekenning as ’n groot eer en ’n stap vorentoe vir jong landboujoernaliste. Sy glo dat sulke inisiatiewe ’n belangrike rol speel in die bevordering van landboujoernalistiek en -ekonomie in Suid-Afrika: “Dit gee jong skrywers en kundiges die kans om hul loopbane te ontwikkel en blootstelling aan landbou as ’n sleutelbedryf te bevorder.”

Die Hollard Farming Portal Junior Agriwriters Awards is daarop gemik om die stemme van jong skrywers te versterk en die belangrikheid van insiggewende joernalistiek in die landbousektor te beklemtoon.

OFM Agri/Robyn Schutte cg

@ 2024 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.