Agriculture
Misdaadtendense in landelike Vrystaat oor feestyd ontleed─── 05:00 Mon, 20 Jan 2025

Dr. Jane Buys, veiligheidsrisikoanalis by Vrystaat Landbou, het insigte gedeel oor die stand van misdaad en veediefstal gedurende die feesseisoen.
Volgens haar was daar 'n gemengde prentjie in die Vrystaat, met sekere areas wat hoë misdaadvlakke ervaar het, terwyl ander gemeenskappe relatief rustig was.
Buys het ná ondersoeke en gesprekke met sowat 65 veiligheidsverteenwoordigers bevind dat tussen 20 en 25 boerderygemeenskappe byna geen misdaad gedurende Desember ervaar het nie. Daarteenoor is sommige dorpe, soos Wepener, Ficksburg, Ladybrand en Clarens, as hoërisikogebiede geïdentifiseer. Dít is veral van toepassing op dorpe naby die Lesotho-grens en hoofroetes.
Veediefstal het 55% van die misdaadsake in Desember uitgemaak toe sowat 750 tot 800 diere wat gesteel is. Groter getalle, soos tussen vyf en tien diere per insident, is aangeteken, en dit dui daarop dat voertuie en trokke waarskynlik gebruik is om die diere te vervoer. Gelukkig is 43% van hierdie gesteelde vee teruggevind, grootliks danksy samewerking tussen boere en die polisie.
Afgesien van veediefstal het boerderygemeenskappe ook ander misdaad aangemeld:
- Eiendomsdiefstal, insluitend koperkabels, sonpanele, transformators, en selfs batterye van selfoontorings.
- Onwettige jag: Jag met honde het in sommige gevalle tot arrestasies gelei.
- Huisbrake en betreding: Hierdie voorvalle het tot boetes en inhegtenisnemings gelei.
- Ernstige geweldsmisdaad: Vier plaasaanvalle, insluitend twee moorde, het groot kommer gewek.
Buys het uitgelig dat verskeie operasies, insluitend padblokkades en gesamentlike patrollies deur boere, privaat sekuriteit, en die polisie, gehelp het om misdaadvlakke te verminder. Hoë sigbaarheid en samewerking tussen gemeenskappe en wetstoepassers was effektief in sekere gebiede.
Rondloperdiere het ook gedurende die feesseisoen uitdagings geskep, veral weens motorongelukke wat daarmee verband hou. Tussen ses en tien ongelukke in Desember is aan rondloperdiere gekoppel. Buys doen ’n dringende beroep op munisipaliteite en vee-eienaars om saam te werk en beter maatreëls te tref.
Vrystaat Landbou beplan om vanjaar klem te plaas op die implementering van munispale wetgewing en sterker maatreëls om rondloperdiere en misdaad in landelike gebiede hok te slaan. Gemeenskappe word aangemoedig om voort te gaan met hul samewerking met die polisie en ander sekuriteitsrolspelers om misdaad verder te beperk.