Agriculture
Sonnige weer voorspel vir NAMPO 2025─── ELZETTE BOUCHER 14:03 Thu, 08 May 2025

Ná weke van nat weer wat voorbereidings op NAMPO Park buite Bothaville effe ontwrig het, lyk dit of besoekers vanjaar se NAMPO Oesdag van 13 tot 16 Mei in sonnige toestande kan geniet.
Johan van den Berg, onafhanklike landbouweerkundige, sê die jongste weermodelle dui op droë en sonnige weer.
“Dit lyk nie of daar enige reën gaan kom nie. Ons verwag lekker sonnige toestande met dagtemperature tussen 22 en 25 grade – regtig goeie weer vir die tyd van die jaar.
Moontlike ligte ryp
Van den Berg waarsku wel dat nagtemperature laag kan wees, met 'n moontlikheid van ligte ryp Maandagoggend en Dinsdagoggend. “Ons kan dalk so ’n ligte rypie verwag, maar later in die week behoort die oggendtemperature beter te wees,” verduidelik hy.
Vir die somergrangebiede het die weer gemengde uitwerking gehad.
“Vroeë sojabone in die Oos-Vrystaat kan nou begin stroop, maar daar is steeds kolle wat te nat is. Mielieprodusente sal nog ’n ruk moet wag voor die lande begaanbaar raak vir stropers.”
Hoewel die warm weer kan help om die grond vinniger te laat droog, is daar tans min wind wat die proses kan versnel. “Ons sou dalk bietjie meer hitte en wind kon gebruik om die afdroog te bespoedig, maar ten minste behoort die sonnige weer te help,” voeg hy by.
Veeboere kan darem ’n sug van verligting slaak, aangesien daar geen groot kouefronte verwag word wat ernstige skade kan veroorsaak nie.
“Behalwe vir die koel nagte vroeg in die week, lyk dit na normale herfsweer sonder enige groot gevaar op hierdie stadium.
Tienduisende besoekers
Met die vooruitgesigte vir mooi weer, hoop Van den Berg dat besoekers die NAMPO Oesdag ten volle sal geniet. “Laat dit goed gaan, en geniet die week!”
Aangebied deur Graan SA, bly NAMPO Oesdag die grootste landbou-ekspo in die Suidelike Halfrond en trek dit jaarliks tienduisende besoekers na die hartjie van die Vrystaat.
OFM Agri mvh