On Now
Weekends 06:00 - 09:00
Weekend Breakfast Gerben
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 The Central SA Top 30 with Laurika
Listen Live Streams

Agriculture

Afvalwol help plaaslike gemeenskap met werkskepping

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 09 Jul 2025

Afvalwol help plaaslike gemeenskap met werkskepping | News Article
Die Woolwise-span wat daagliks produkte maak van vilt en Shwe Shwe-materiaal.

Afvalwol wat eintlik weggooiwol is, is deesdae die hoofproduk in ’n werkskeppingsprojek van die Vrystaat Universiteit (UV).

Die projek, “Woolwise”, word vanaf die universiteit se proefplaas bedryf.

“Ons wou graag die volhoubaarheid van landbou bevorder en ons het besluit om die afvalwol te gebruik om vilt met die hand te maak, dit was ’n groot leerproses maar ons het dit reggekry,” sê Doretha Jacobs van die Departement Volhoubare Landbou en Voedselontwikkeling aan die UV.

Die projek is reeds vier jaar aan die gang en het tans vier werkers in diens. Daar word ook produkte van Shwe Shwe-materiaal gemaak, hierdie materiaal is oorspronklik afkomstig van Lesotho.


Die afvalwol word gebruik om produkte te maak soos muurbehangsels, kussings, speelgoeddiere, matte, baadjies  en lampkappe. “Dis ’n baie lang en tydsame proses aangesien die vuil afvalwol eers gewas en gekam moet word voordat enige viltprodukte daarvan gemaak kan word.  Die masjiene wat gebruik word is deur die Departement Instrumentasie by die Universiteit ontwerp en vervaardig en ander is ingevoer.” 

Doretha Jacobs, projekleier van “Woolwise”.

Die Shwe Shwe-produkte sluit in “lanyards”, rompe en kongressakke. Die publiek is ook welkom om enige van hierdie produkte by Woolwise te bestel en dit word volgens spesifieke behoeftes gemaak. Daar word ook geweef en gespin en daar is selfs al vir ’n kliënt ’n matjie van haar hond se hare geweef.

Woolwise produkte wat van vilt en Shwe Shwe materiaal gemaak is.

Studente doen ook praktiese opleiding by hierdie fasiliteit en vrouens van die gemeenskap word gereeld opgelei in kookkursusse, begrotings, polisse, testamente en ook gesinsbeplanning.

Woolwise teddies wat van vilt gemaak is.

“Die uiteindelike doel van hierdie projek en die groot droom is om die viltprodukte uit te voer na ’n mark wat dit kan bekostig en so ons voetspoor internasionaal te vergroot.” 

Die publiek is welkom om die proefplaas te besoek op afspraak.

OFM Landbou/Isabel van Tonder

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.