Agriculture
Agbiz: G20-landbouberaad kan wêreldwye voedselsekerheid versterk─── 08:45 Mon, 15 Sep 2025

Die G20 se ministers van landbou vergader vandeesweek in die Wes-Kaap, waar gesprekke oor volhoubare voedselsekerheid, handel en klimaatslim-boerdery hoog op die agenda is.
Volgens Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, bied die beraad ’n belangrike geleentheid om globale benaderings te deel en beleidsrigtings te beïnvloed. “Al is landboubeleid uiteindelik ’n binnelandse saak, help sulke gesprekke om lande te laat dink buite hul grense, omdat voedselmarkte en voedselsekerheidskwessies wêreldwyd onderling verbind is.”
Globale gesprekke met plaaslike impak
Hy beklemtoon ontwikkelde lande fokus dikwels op bekostigbaarheid en klimaatsimpakte, terwyl Afrika en dele van Asië en die Midde-Ooste steeds worstel met lae produktiwiteit, klimaatsrisiko’s en geopolitieke spanninge. “Vir Afrika is dit noodsaaklik dat die beraad aandag gee aan kwessies soos verbeterde bemestingstoegang, waarde-kettingontwikkeling en landbou-tegnologie.”
Die B20, die sakearm van die G20, het reeds drie sleutelvoorstelle gemaak om voedselsekerheid te verbeter – verhoogde handel deur produksie in mededingende streke te benut, meer veerkragtige verskaffingskettings, en volhoubare landboupraktyke wat hulpbronne beskerm en grondgehalte verbeter.
Handel en tariefbelemmeringe
Sihlobo meen hierdie beginsels resoneer sterk met Suid-Afrika, veral die klem op handel. Hy wys egter daarop dat Suid-Afrikaanse uitvoer na lande soos China en Indië dikwels deur hoë tariewe en nie-tariefbelemmeringe geknel word. “Suid-Afrika het ’n mededingende voordeel in die uitvoer van vrugte, wyn en rooivleis en die bevordering van hierdie uitvoer is sentraal tot ons landboubeleid.”
Die groter geopolitieke konteks bly ’n uitdaging, veral met Amerika se besluit om vanjaar hoër tariewe op verskeie invoer te hef. ’n Sterk verbintenis tot oop handel uit die G20-gesprekke is volgens hom noodsaaklik.
Volhoubaarheid en Afrika-prioriteite
Oor klimaatsake waarsku hy dat volhoubaarheid nie ten koste van produktiwiteit mag kom nie. “Ons moet nie toelaat dat klimaatslim-praktyke as nie-tariefbelemmerings gebruik word nie. Die fokus moet wees op optimale gebruik van insette wat produktiwiteit verhoog én die omgewing beskerm.”
Vir Afrika lê die prioriteit in groter beleggings in infrastruktuur, beter grondbestuur, toegang tot bemesting, tegnologie en die integrasie van markte.
“Die G20-gesprekke mag soms ver verwyderd voel van die plaaslike werklikheid, maar hulle kan die werkomstandighede van boere en ondernemings diep beïnvloed – tans in ’n positiewe rigting.”
OFM Agri/verklaring ebk dg