On Now
Weekdays 19:00 - 22:00
OFM Nights Ashmund
Show Background
NEXT: 22:00 - 23:59 Overnight with Oscar
Listen Live Streams

Agriculture

Suid-Afrika ruil kennis oor makadamianeute met Australië

───   ISABEL VAN TONDER 13:45 Thu, 23 Oct 2025

Suid-Afrika ruil kennis oor makadamianeute met Australië | News Article
Die Makadamia bedryf in Suid-Afrika doen steeds goed. Foto: Pexel.com

Suid-Afrika se voorste makadamiaverwerker en -bemarker het teruggekeer van ’n twee week lange tegniese uitruiling in Australië met insigte wat die wêreldwye makadamiabedryf kan vorm.

Suid-Afrika se voorste makadamiaverwerker en -bemarker het teruggekeer van ’n twee week lange tegniese uitruiling in Australië met insigte wat die wêreldwye makadamiabedryf kan vorm. Onder leiding van Green Farms Nut Company (GFNC) se landbou-tegniese bestuurder, Barry Christie, en KZN- tegniese bestuurder, dr. Armand Smit, het die besoek GFNC se vennoot in langtermynverwerking, Suncoast Gold, toonaangewende boorde in Bundaberg, asook sessies ingesluit met prominente konsultante drr. Chris Searle en Theunis Smit.

“Dit was meer as net ’n feitesending; dit het gegaan oor die identifisering van mededingende voordele, om te verstaan waar Suid-Afrika reeds lei en waar die aanneming van Australiese praktyke hoër winsgewendheid kan lewer,” sê Barry Christie, GFNC- groep- landbou-tegniese bestuurder.

Makadamia-aanplantings in Bundaberg, Australië. Foto: GFNC

Die toer het begin met ’n besoek aan Suncoast Gold wat waardevolle insigte in internasionale verwerkingsbenaderings gebied het. “Dit was bemoedigend om te sien hoe ons eie Suid-Afrikaanse fabrieke steeds wêreldwye beste praktyke handhaaf,” sê Christie. 

“Dit beklemtoon aan produsente sowel as kliënte dat GFNC se verwerkingsgehalte onoortreflik is.”

In Bundaberg het die span een van Australië se mees ambisieuse nuwe makadamiaontwikkelings besoek. Dis ’n 1 400 ha-plaas en is geheel en al ontwerp rondom meganiese oes. Dit verminder Australië arbeidskoste wat prioriteit is.

Mededingende voordeel

’n Onvermydelike probleem staar Australiese boorde in die gesig: meganiese oes wat die grondoppervlakte beskadig, terwyl Suid-Afrika meestal met die hand oes en grond meer veerkragtig laat. 

“Dit is ’n duidelike mededingende voordeel vir Suid-Afrika, want gesonde grond vorm die grondslag van langtermyn-opbrengs en boordweerbaarheid,” sê Christie.

Een van die mees verrassende waarnemings was die bykans volledige afwesigheid van siek- of voedingstekort-bome oor uitgestrekte Australiese boorde. Christie glo dit kan dui op unieke grondmikrobiese interaksies in die streek.

Ruimte vir verbetering

“Hierdie onverwagte bevinding kan ’n heel nuwe navorsingsrigting oopmaak. As grondmikrobes ’n rol in makadamiaboom gesondheid speel, kan die begrip en toepassing van hierdie kennis transformerend wees vir produsente wêreldwyd.”

Die GFNC-span het teruggekeer met die besef dat dit goed gaan met die plaaslike bedryf. Tog is daar ruimte vir verbetering. 

Die ware geleentheid bestaan daarin om oor en weer by mekaar te leer, nie met mekaar te wedywer nie, sê Christie.

OFM Agri/Isabel van Tonder mvh

@ 2025 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.