On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

Sitrusbedryf berei voor vir moontlike uitdagende uitvoerseisoen

───   ELSABÉ RICHARD 06:48 Tue, 28 Apr 2026

Sitrusbedryf berei voor vir moontlike uitdagende uitvoerseisoen | News Article
Foto: Pexels/Maria Mileta

Die brandstofprys en Transnet se heffings kan groot druk op Suid-Afrikaanse sitrusprodusente plaas.

Die uitwerking van die Midde-Oosterse konflik en bykomende houerheffings kan ’n swaar las plaas op dié produsente wat reeds onder klein winsmarges gebuk gaan. ’n Volgende ronde gesprekke tussen die VSA en Iran in Islamabad, Pakistan, kan plaasvind teen die agtergrond van ’n brose skietstilstandsooreenkoms, wat president Donald Trump onbepaald verleng het.

Die trefkrag van vyandelikhede versprei reeds in die wêreldekonomie, sê dr. Boitshoko Ntshabele, hoof- uitvoerende beampte van die Suider-Afrikaanse Sitruskwekersvereniging (SKV). “Hierdie oorlog het ’n skerp styging in brandstofpryse veroorsaak, wat ’n ernstige risiko vir die sitrusbedryf inhou,” sê hy in ’n weeklikse nuusbrief.

Stygende koste en logistieke onsekerheid

Brandstof is noodsaaklik in plaasbedrywighede en die vervoer van vrugte na hawens, hoofsaaklik per pad.

Dieselpryse het in April, danksy ‘n brandstofheffingverlaging van R3,00, net gestyg met tot R7,50, en nié die aanvanklike gevreesde R10,00 nie. Die jongste data van die Sentrale Energiefonds toon egter die dieselprys kan in Mei weer met R7,00 styg. Die regering sê hy werk daaraan om die heffing vir nog ’n paar maande laag te hou .

Die SKV sê die uitvoerseisoen is op die punt om in alle erns te begin, maar sommige sitrusvragte na die Midde-Ooste het reeds laat aangekom omdat skeepsroetes en hawebestemmings voortdurend verander.

Die organisasie het ook sy kommer uitgespreek oor Transnet Port Terminals se aankondiging van bykomende houerheffings weens die voortslepende konflik. Ntshabele sê die moontlike verhoging van dié heffing is kommerwekkend.

Oproepe vir steun en veerkragtigheid

Die SKV het in die versterking van data- en markintelligensie-vermoëns belê om vinnig op veranderende omstandighede te kan reageer. Ntshabele beklemtoon die organisasie se prioriteit bly om “alles moontlik te doen om kontinuïteit van voorsiening te verseker”.

Die finansiële uitwerking van stygende koste, tesame met moontlike haweheffings, kan egter ’n uitdagende uitvoerseisoen meebring. “Bykomende haweverwante koste kan verdere druk plaas op ’n bedryf wat reeds onder spanning is, met kleiner en opkomende produsente wat veral kwesbaar is.”

Staatsondersteuning sal belangrik wees, insluitend geteikende brandstofverligtingsmaatreëls en verbeterde marktoegang. Veerkragtigheid is noodsaaklik om te verseker die sitrusbedryf kan “tydperke van ernstige druk deurstaan en steeds waarde vir Suid-Afrika lewer”, sê  hy.

OFM Agri/Elsabé Richard-May

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.