Agriculture
Pistachio’s in SA groei tot belowende uitvoermark─── 14:15 Tue, 26 May 2026
Die pistachio-bedryf in Suid-Afrika is besig om vinnig momentum op te bou. Die vraag daarna groei sterk, veral in die buiteland.
Wêreldvraag na pistachio’s het die afgelope vyf jaar met 12,5% gegroei. In China was die jongste jaar-op-jaar-toename 74,75%. In Suid-Afrika is sowat 200 ha met dié neutbome beplant.
Vanweë die besonderse groei-omstandighede wat vereis word, kan pistachioneute slegs op enkele plekke ter wêreld verbou word.
“Pistachioneute hou veral van warm somers, koue winters en matige lentetemperature, en Suid-Afrika is veral geskik daarvoor,” sê Anton Muller, onafhanklike hortologiese konsultant. Die Kaapprovinsies het veral potensiaal om mee te ding met lande soos Amerika, Iran, Turkye en Sirië wat verbouing aanbetref.
Suid-Afrika het ’n unieke geleentheid om voordeel te trek uit wêreldwye uitdagings en geopolitieke druk op produksie in die buiteland en nuwe uitvoergeleenthede in Suid-Afrika te skep.
Die plaaslike bedryf is nog in sy vroeë ontwikkelingsfase, maar beskik reeds oor jare se navorsing en ervaring. Volgens Pistachio Nut Company word daar reeds sedert 2001 met pistachioverbouing in Suid-Afrika geëksperimenteer.

Pistachio Nut Company het die SA Pistachiobedryf op die negende Internasionale Simposium oor Amandels en Pistachios in Lleida, Spanje verteenwoordig. Hier is is Ferdie Ungerer en Anton Müller. Foto verskaf
Pistachio’s is ook bekend as superkos omdat dit hoog is in vesel, antioksidante, melatonien, kalium en ook laag in kalorieë is. Dit word toenemend gebruik in sjokolade en nageregte, roomys, gesonde versnaperings, plantgegronde voedselprodukte en bakprodukte.
Die wêreldwye fokus op gesonde eetgewoontes help verder om vraag aan te dryf, aangesien pistachioneute ook hoog in proteïen is.
Die bedryf hou ook ekonomiese waarde in vir die platteland. Nuwe werksgeleenthede en beleggings word na droë streke gebring, waar landbou-uitdagings gedurig toeneem.
Die uitdaging bly egter dat pistachioboerdery ’n langtermynbelegging is. Dit kan jare duur voordat bome betekenisvolle oeste begin lewer, en produsente moet diep sakke en hope geduld hê.
Bedryfsrolspelers glo Suid-Afrika kan ’n prima-uitvoerder van pistachioneute van hoë gehalte word, soortgelyk aan die sukses wat die land reeds met makadamianeute en sitrusuitvoer behaal het.
OFM Agri sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
