On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Voorkom winterverliese met goeie beplanning

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 07 Jul 2026

Voorkom winterverliese met goeie beplanning | News Article
Winter is ’n tyd wanneer daar fyn beplanning met vee gedoen moet word. Foto: The Western Producer

Erge wintertoestande kan diere se gesondheid, produktiwiteit en oorlewing ernstig beïnvloed.

Terwyl bittere koue, ysige winde en moontlike ryp in verskeie dele van Suid-Afrika voorspel word, word boere aangemoedig om hul vee betyds voor te berei. Wanneer winterkoue veral met reën, sterk wind of onvoldoende skuiling gepaard gaan, kan verliese ondervind word.

“Klein voorbereidings kan ’n groot verskil maak aan veeverliese. Eerstens is dit belangrik om seker te maak dat vee nie maer in die winter ingaan nie. Hulle het vetreserwes nodig om hulle te help warm hou, en om ekstra energie te verskaf as dit koud raak,” sê dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveearts van die Bloemfonteinse Veterinêre Laboratorium.


“Boere moet reeds in Februarie kondisietellings monitor om seker te maak dat hulle betyds lek-aanvullings gee en so help om gewig aan te sit, in die herfsmaande. Diere moet verkieslik ’n kondisietelling van nie laer nie as twee en ’n half tot drie uit vyf hê wanneer die winter begin.”

Jong diere is altyd die kwesbaarste, veral lammers en kalwers wat in die winternagte gebore word. Skuiling kan ’n groot verskil maak en diere sal skuil langs ’n kraalmuur of ’n laning bome of agter bosse. ’n Afdak waar ooie wat lam kan droog bly, help veral baie.

Ekstra voer moet beskikbaar gestel word omdat diere wat herkou, die rumen stimuleer en dit genereer hitte wat hulle help om warm te bly.

Diere staan basies sonder ophou in die koue, dag en nag. Daarom moet hulle ekstra energie in voeding kry . Foto: Facebook

Volgens Bester-Cloete moet diere wat ekstensief aangehou word, verkieslik in ’n kamp met ekstra weiding gesit word, sodat daar voldoende gras beskikbaar is. “In intensiewe stelsels of waar veld reeds erg bewei is, sal lusernbale of volsaad-hawerbale ook goed werk. 

Indien grasbale gevoer word, moet ekstra energie in die vorm van ’n lek gegee word. Molassemeel of ander lekke met ‘n hoë energie-inhoud moet beskikbaar gemaak word, ten minste ’n dag voor die temperature drasties val.”

Daar moet voldoende water wees en waterkrippe wat gevries is, se ys moet gebreek word. Weervoorspellings is baie belangrik sodat boere betyds voorbereidings kan tref vir vee.

Beplanning met dekking kan ook gedoen word, sodat skape nie in Julie en Augustus lam nie. “Ek sien heelwat vee wat aan proteïenenergie-wanvoeding dood is as ek nadoodse ondersoeke doen. Dit gebeur wanneer hulle nie meer vet-reserwes het om hulle te help warm hou nie, dan verkluim hulle in die koue, nat nagte.

Beplanning moet met dekking gedoen word, sodat skape nie in Julie en Augustus lam nie. Foto: Facebook

“Ons moet onthou dat ons net vir kort tydperke op ’n slag aan die koue blootgestel word; diere staan basies sonder ophou in die koue, dag en nag.

“My drie belangrikste wenke vir doeltreffende bestuur van vee in die winterkoue is: Sorg dat diere in ’n goeie kondisie die winterkoue ingaan, voorsien ekstra voeding en verskaf ’n vorm van skuiling soos ’n ry voerbale, plant lanings bome aan of gee onderdak-skuiling,” sê Bester-Cloete.

OFM Agri/Isabel van Tonder cvs

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.