Agriculture
RPO-vennootskap skep meer bedryfsgeleenthede vir Peritum-studente─── 05:00 Thu, 20 Aug 2026
Studente van Peritum Agri Institute kan voortaan groter blootstelling aan Suid-Afrika se rooivleisbedryf kry danksy ’n nuwe vennootskap met die Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO).
Hulle het ’n memorandum van verstandhouding onderteken wat samewerking tussen landbou-onderwys en die rooivleisbedryf moet versterk. Die vennootskap is gemik op volhoubare veeproduksie en die ontwikkeling van landbouvaardighede onder huidige en toekomstige boere.
“Hierdie memorandum van verstandhouding is ’n belangrike stap in die versterking van die verhouding tussen landbou-onderwys en die rooivleisbedryf. Deur nouer samewerking kan ons studente groter blootstelling aan die bedryf bied en terselfdertyd bydra tot die ontwikkeling van vaardighede wat Suid-Afrika se toekomstige landbousektor benodig,” sê ’n Peritum-woordvoerder.

Peritum Agri Institute is 'n private landbou-opleidingsinstituut. Foto: iStock
Die RPO word ’n strategiese vennoot van Peritum se diploma in diereproduksie en sal bedryfsadvies en ondersteuning bied. Die kwalifikasie sal onder RPO-lede bevorder word terwyl die organisasie ook geleenthede vir werkgeïntegreerde leer by sy lede sal help ontsluit.
Peritum Agri Institute is ’n private landbou-opleidingsinstituut en vaardigheidsontwikkelingsmaatskappy in Bloemfontein. Hy bied programme vir jong boere, kommersiële en opkomende boere en plaaswerknemers. Studente word onder meer voorberei vir loopbane as plaasbestuurders, landbou-adviseurs en verkoopsverteenwoordigers.

Die memorandum van verstandhouding tussen Peritum Agri en RPO geld vir vyf jaar. Foto: Facebook
Studente-ondersteuning maak ’n belangrike deel van die ooreenkoms uit. Peritum sal beursgeleenthede deur die RPO beskikbaar stel terwyl die organisasie naamregte vir die toppresteerder- en merietetoekennings ontvang. Kennisdeling word ook bevorder deur artikels wat Peritum vir die RPO se Rooivleis Gazette sal voorsien.
Die memorandum van verstandhouding geld vir vyf jaar vanaf die datum van die laaste ondertekening. Die twee organisasies kan dit daarna deur ’n wedersydse skriftelike ooreenkoms verleng.
OFM Agri/Isabel van Tonder sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
