Agriculture
Koring by ‘n kruispad en dit raak elke huishouding─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Fri, 11 Sep 2026
Suid-Afrika se koringbedryf staan by ‘n kruispad – en wat vandag op die plaas gebeur, raak byna elke huishouding in die land.
Dit was die kernboodskap uit ‘n onlangse geleentheid van Agri in gesprek: Wintergrane by ‘n Kruispad wat by NAMPO Kaap plaasgevind het. Produsente, ekonome en rolspelers uit die waardeketting het oor die toekoms van plaaslike koringproduksie gepraat en deelgeneem.
Koringprodukte word deur ongeveer 96% van Suid-Afrikaanse huishoudings verbruik en verteenwoordig sowat 12% van die gemiddelde voedselmandjie. Ongeveer 90% van die bevolking maak gereeld op koringgebaseerde voedsel staat, met brood verreweg die belangrikste produk en verantwoordelik vir ongeveer die helfte van huishoudelike besteding aan koringprodukte.
Terselfdertyd is dit ‘n bedryf met ‘n groot ekonomiese en maatskaplike voetspoor. Die koringwaardeketting dra na raming R70 miljard tot R75 miljard tot die Suid-Afrikaanse ekonomie by en ondersteun ongeveer 90 000 werksgeleenthede deur boerdery, insetverskaffing, verwerking, handel, vervoer en verwante dienste.

Maal- en bakbedrywighede ondersteun sowat 55 000 formele werksgeleenthede. Foto: Britannica
Maal- en bakbedrywighede alleen ondersteun sowat 55 000 formele werksgeleenthede en die formele bakbedryf lewer na raming ongeveer R27 miljard in bruto toegevoegde waarde.
Die uitdaging is daarom nie of Suid-Afrika koring moet invoer nie, invoere is reeds deel van die plaaslike voorsieningsmodel. Produsente lewer gehalteproduk maar word nie daarvoor vergoed nie. Een van die belangrikste kwessies is die groeiende wanbalans tussen die gehalte van Suid-Afrikaanse koring en die waarde wat daarvoor terugvloei na die plaas.
Die huidige prysvormingsmeganismes, gradering, basispremies, tariefstelsel en liggingsdifferensiale moet daarom beter met die werklike maal-en bakwaarde van plaaslike koring belyn word.

Voedselsekerheid bly krities en die plaaslike koringproduksiekapasiteit moet beskerm word. Foto: Bayer
Die huidige droogtetoestande in die Swartland wys ook hoe vinnig produksierisiko op die produsent se balansstaat beland nadat insette reeds aangegaan en produksiebesluite reeds geneem is.
Dit is waarom Graan SA voortgaan om vir ‘n bekostigbare en werkbare oesversekeringsmodel en gedeelde risikomeganismes te pleit by owerhede. Die regering het nou ‘n geleentheid om op te tree, Graan SA meen die huidige Artikel 7-proses oor die koringbedryf bied ‘n belangrike geleentheid om van diagnose na oplossings te beweeg.
Koringgebaseerde produkte verteenwoordig ongeveer 15% van voedselbesteding onder die armste huishoudings. Voedselbekostigbaarheid bly daarom krities.
Die waarskuwing uit NAMPO Kaap is duidelik: Suid-Afrika moet nie wag totdat plaaslike koringproduksiekapasiteit verdwyn voordat opgetree word nie. Koring ondersteun duisende werksgeleenthede, hou landelike ekonomieë aan die gang en voed ‘n omvangryke vervaardigings- en voedselbedryf.
Om daardie bydrae te behou moet dit steeds ekonomies moontlik wees om koring op Suid-Afrikaanse lande te plant.
OFM Agri sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
