On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Michael
Show Background
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Agriculture

Suid-Afrika se produkte verdien hul plek in kollig

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Mon, 14 Sep 2026

Suid-Afrika se produkte verdien hul plek in kollig | News Article
Suid-Afrika beskik oor ‘n besonderse voedselerfenis. Foto: Png tree

Sommige kleinhandelaars plaas onder meer Italiaanse kos in die kollig, maar Suid-Afrika se boere verdien dieselfde toewyding om hul storie te vertel.

Daar is ‘n ongemaklike vraag wat Suid-Afrika se groot voedselkleinhandelaars behoort te beantwoord.  Wanneer Suid-Afrikaners miljarde rand aan kos bestee, hoeveel verantwoordelikheid dra kleinhandelaars om te verseker daardie geld ondersteun ook Suid-Afrikaanse produsente, werkgeleenthede en landelike gemeenskappe?

Die RPO sê dit is nie ‘n argument teen ingevoerde voedsel nie. Suid-Afrikaners behoort Italiaanse pasta, parmesaankaas, parmaham en ander internasionale produkte te kan geniet. Die vraag gaan eerder oor prioriteite, die mag van bemarking en die verantwoordelikheid wat daarmee gepaardgaan in die Suid-Afrikaanse voedselekonomie.

Identiteit

Suid-Afrika beskik oor ‘n besonderse voedselerfenis. Rooibos, Honeybush en Karoo-lam is onder meer as Suid-Afrikaanse geografiese aanduidings erken en beskerm. In die geval van Karoo-lam is die produk se identiteit onlosmaaklik verbind aan die landskap waar dit geproduseer word.

Suid-Afrikaanse boere verdien dat hul eie handelsnaam gebou word. Foto: Deposit photos

Die kwessie gaan nie bloot daaroor om “Karoo-lam” of “Rooibos” op ‘n verpakking te druk nie. Dit gaan oor die ekonomiese krag om ’n handelsnaam te bou. Wanneer ‘n kleinhandelaar verpakking, promosie, rakruimte en verbruikerservaring beheer, beïnvloed hy wat verbruikers as waardevol beskou.

Hierdie gesprek vind plaas teen ‘n moeilike agtergrond vir Suid-Afrika se rooivleisbedryf. Veeboere word deur bek-en-klouseer, markontwrigtings, hoë insetkoste en veranderende verbruikspatrone geraak.

As bemarkinghulpbronne gebruik kan word om byvoorbeeld die verhaal van Italiaanse kos te vertel kan dieselfde energie gebruik word om die stories van Suid-Afrikaanse produkte en boere te vertel – van die Karoo tot die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Limpopo, Mpumalanga en die Oos-Kaap.

Italiaanse boere het die reg om hul stories te vertel, maar Suid-Afrikaanse boere verdien dieselfde geleentheid. Dit sou meer as bemarking wees. Dit sou verskafferontwikkeling, landelike ekonomiese ontwikkeling en ‘n belegging in Suid-Afrika se voedselerfenis wees.

Suid-Afrikaanse produkte soos rooivleis en rooibos verdien beter bemarking deur kleinhandelaars. Foto: Mate Mundo

Suid-Afrikaanse boere benodig nie simpatie nie. Hulle benodig funksionerende markte, voorspelbare vraag, billike waarde, marktoegang, siektebeheer en belegging. Hulle wil hê verbruikers moet verstaan die waarde en oorsprong van die voedsel wat hul produseer.

‘n Suid-Afrikaanse plaas is meer as ‘n verskaffer. Dit is deel van ‘n ekonomiese ketting wat mense in diens neem, plaaslik aankoop, landelike gemeenskappe ondersteun, slagpale en logistiek voed en uiteindelik kos op die verbruiker se tafel plaas.

Die RPO beklemtoon wanneer ‘n verbruiker ‘n pakkie lamsvleis of produk koop moet die etiket presies vertel waar dit vandaan kom, waarom daardie plek saak maak en wie se lewensbestaan deur die aankoop ondersteun word. 

OFM Agri dg

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.