Agriculture
Kanola skep ruimte vir nuwe beleggings en markte─── ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 15 Sep 2026
Die Suid-Afrikaanse kanolabedryf se sterk groei skep geleenthede vir plaaslike investering, verwerking en markontwikkeling.
Volhoubare uitbreiding van die kanola-mark sal afhang van toegang tot deurlopende, vernuwende genetika, nuwe tegnologie, verantwoordelike produksiepraktyke en die ontwikkeling van plaaslike én uitvoermarkte.
Dit was die kernboodskap uit die paneelgesprek Kanola: ’n Goue Toekoms onlangs tydens NAMPO Kaap. In die gesprek is klem gelê op die bedryf se groei, toekomstige produksiepotensiaal, verwerking, markontwikkeling, genetika en risiko’s.

Kanola-aanplantings het van 34 000 ha tot 192 300 ha gegroei. Foto: Britannica
Kanola het oor die afgelope jare van ‘n alternatiewe wisselbougewas ontwikkel tot ’n kernkomponent van veral die Wes-Kaapse produksiestelsel. Suid-Afrikaanse aanplantings het van 34 000 ha in 2010 gegroei tot ongeveer 192 300 ha vanjaar.
Die groei weerspieël verbeterings in genetika, produksietegnologie, meganisasie, navorsing en markontwikkeling, maar ook die waarde van kanola binne ’n volhoubare wisselboustelsel.
Tydens die gesprek is beklemtoon produksiegroei en markontwikkeling moet hand aan hand gaan. Namate plaaslike produksie toeneem, sal uitvoergeleenthede belangriker word om die bedryf se volhoubare groei te ondersteun – veral indien produksie vinniger as plaaslike verbruik en verwerkingskapasiteit uitbrei.

Verbeterde kanola-kultivars het ’n belangrike rol in nuwe genetika en saadtegnologie. Foto: Noble Foods Dubai
Waar dit ekonomies haalbaar is, bly plaaslike verwerking en waardetoevoeging egter die voorkeur. Deur olie, meel en ander kanolaprodukte plaaslik te verwerk kan meer waarde in die Suid-Afrikaanse ekonomie behou word. Verbeterde kultivars het ’n belangrike rol in nuwe genetika en saadtegnologie.
Vir Graan SA is die belangrikste boodskap uit die gesprek dat kanola se goue toekoms nie bloot in meer hektare lê nie, maar in ’n waardeketting wat saam met produksie ontwikkel.
Die verantwoordelike gebruik van landbouchemie is noodsaaklik vir die bestuur van onkruidweerstand en vir die langtermyndoeltreffendheid van chemiese beheermaatreëls. Daar is in die gesprek ook gewaarsku dat verkeerde of onverantwoordelike chemiese gebruik die bemarkbaarheid van produkte en toegang tot uitvoermarkte kan beïnvloed.
Dit beteken ’n winsgewende produsent, voortgesette beleggings in genetika en tegnologie, verantwoordelike produksiepraktyke, voldoende plaaslike verwerkingskapasiteit en toegang tot groeiende plaaslike en internasionale markte.
Die sukses van die kanolabedryf tot dusver is gebou op samewerking tussen produsente, navorsers, saadmaatskappye, verwerkers, bemarkers en bedryfsorganisasies.
Indien dié samewerking voortgaan, is daar ’n sterk grondslag om kanola se volgende groeifase volhoubaar te ontsluit en verdere waarde binne Suid-Afrika se landbou-ekonomie te skep.
OFM Agri sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
