On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Michael
Show Background
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Agriculture

Hondsdolheid is ernstig, maar voorkombaar

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Wed, 16 Sep 2026

Hondsdolheid is ernstig, maar voorkombaar | News Article
Wilde diere wat skielik hondmak is of vreemde gedrag toon, kan tekens van hondsdolheid wees. Foto: KVUE

Hondsdolheid is ’n dodelike virussiekte wat diere sowel as mense kan besmet.

Dit word hoofsaaklik deur die byt of speeksel van ’n besmette dier oorgedra en sodra simptome ontwikkel, is dit feitlik altyd noodlottig. Honde en ander diere speel ’n belangrike rol in die verspreiding van die virus. Daarom bly bewusmaking, verantwoordelike troeteldiereienaarskap en gereelde inenting ’n belangrike deel van hondsdolheidbeheer.

“Hondsdolheid is ’n virussiekte wat die senuweestelsel van soogdiere aantas. Dit word versprei deur die speeksel van ’n siek dier en word gewoonlik deur ’n byt na die nuwe slagoffer oorgedra,” sê dr. Hanri Bester-Cloete, staatsveearts van die Bloemfontein Veterinêre Laboratorium.

Karnivore hou gewoonlik die grootste gevaar in sentraal Suid-Afrika in. Aardwolwe en katte word positief getoets. In ander provinsies bly honde die grootste draer. Aan die Kaapse kus is jakkalse en robbe ’n groot probleem.


Van Januarie tot Julie vanjaar was daar tien bevestigde gevalle van hondsdolheid onder mense in Suid-Afrika. Vyf was in die Oos-Kaap, vier in KwaZulu-Natal en een in Limpopo. Byna almal was kinders, sê Bester-Cloete.

Tekens van die siekte is enige abnormale gedrag, byvoorbeeld ’n wilde dier wat helder oordag in ’n huis inloop, ’n mak kat wat skielik iemand aanval, of ’n skaap of bees wat skielik aggressief raak en nie saam met die trop beweeg nie. Omdat vee dikwels kwyl, is boere geneig om te dink iets sit vas in die skaap of bees se bek. Om ’n hand in die dier se bek te druk kan die siekte verder versprei.

Bester-Cloete sê dit  is die boer se verantwoordelikheid om enige vermoedelike gevalle aan te meld, saam met die staatsveearts te werk om die dier uit te sit en so vinnig as moontlik monsters te kry vir toetsing.

Boere druk dikwels hul hande in skape en beeste se bekke omdat hulle dink dat daar iets vassteek in die bek as daar baie kwyl teenwoordig is. Foto: You Tube

“Katte en honde se inenting elke een tot drie jaar is baie belangrik. Skraagdosisse kan tydens ’n uitbreking toegedien word. Daar is uitreike deur die Vrystaatse staatsveearts om diere in te ent. Die staatsveearts kan genader word vir gratis inentings.”

Iemand wat deur ’n besmette dier gebyt is, moet heel eerste die bytplek vir minstens tien minute met water spoel. Dit sal die viruslading en bakterieë in die wond verminder. 

Mediese hulp moet dadelik verkry word en die dier moet aan die staatsveearts besorg word vir verdere toetse. Die virus versprei deur senuwee-bane na die brein. “Indien dit die brein bereik, kan die mens of dier nie gered word nie,” sê Bester-Cloete.

Die hoofboodskap oor dié dodelike siekte is dat diere ingeënt moet word daarteen. “Dit is een vinnige inspuiting, wat gratis deur ’n staatsveearts toegedien word, wat ’n reuse verskil kan maak.”

OFM Agri/Isabel van Tonder sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.