On Now
Weekdays 06:00 - 09:00
The Good Morning Breakfast Shandor, Margaret and John
Show Background
NEXT: 09:00 - 12:00 Mid-Morning Magic with Yolanda
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer: Entstof koop tyd, maar vervang nie beheermaatreëls

───   05:00 Fri, 18 Sep 2026

Bek-en-klouseer: Entstof koop tyd, maar vervang nie beheermaatreëls | News Article
Boere moet hul hele kudde sover moontlik op dieselfde tyd inent. Foto: Facebook/SA Bradford

Boere wat teen bek-en-klouseer inent, sal steeds streng bewegingsbeheer en bioveiligheid moet handhaaf.

RMIS-veearts dr. Peter Evans waarsku die entstof sal nie ’n besmette dier genees of onmiddellik teen die virus beskerm nie. Die grootste voordeel is dat ingeënte diere gewoonlik ligter siektetekens ontwikkel en minder van die virus dra, wat die tempo waarteen dit versprei, kan verlaag.

Evans sê een van die grootste wanopvattings is dat inenting soos behandeling werk. “Bek-en-klouseer-entstowwe is nie ’n geneesmiddel nie.” Anders as antibiotika behandel dit nie ’n dier wat reeds besmet is nie. Die virus kan steeds in ’n ingeënte dier vermeerder, hoewel die immuunreaksie die erns van die siekte beperk.

Die volgende 28 dae ná inenting bly daarom besonder belangrik. Evans sê dit duur minstens 14 dae, en by sommige diere tot 28 dae, voordat ’n volle immuunreaksie ontwikkel. In dié tyd behoort ingeënte diere nie van die eiendom verskuif, verkoop of na ’n veiling, skou of ander byeenkoms geneem te word nie.

Dr. Peter Evans. Foto: Sappo

“Die entstof kan nie onmiddellike beskerming bied nie,” waarsku Evans. Daar is daarom geen wetenskaplike regverdiging om diere eers by hul aankoms by ’n skou, veiling of ander plek waar verskillende groepe vee saamkom, in te ent nie. Teen daardie tyd is die blootstellingsrisiko reeds daar.

Boere sal ook hul hele kudde sover moontlik op dieselfde tyd moet inent. Evans waarsku dat inenting van kleiner groepe op verskillende tye ongelyke vlakke van immuniteit binne dieselfde kudde skep. Dit kan siektebeheer bemoeilik en geleenthede skep vir verskillende groepe om besmet of selfs weer besmet te raak.

“Die doel moet wees om die kudde saam in te ent en kudde-immuniteit saam op te bou,” sê hy. Dit beteken dat die inentingsprogram vooraf beplan moet word, eerder as om telkens eers te reageer wanneer ’n nuwe groep diere hanteer, gekoop of verkoop moet word.

Beplan vir skraagdosisse

Skraagdosisse sal ook deel van die langtermynplan moet wees. Die tydperk op ’n entstof se voubiljet moet as die maksimum tyd voor die volgende dosis verstaan word, en nie as ’n teikendatum wat boere so lank moontlik moet uitstel nie. Die eerste skraagdosis word gewoonlik ses tot agt weke later aanbeveel, met ’n verdere inenting omstreeks ses maande daarna.

Daarna behoort boere hul veearts se raad en die spesifieke vervaardiger se voorskrifte te volg. Kalwers kan volgens Evans van ongeveer twee maande oud by ’n inentingsprogram ingeskakel word en ses tot agt weke later ’n skraagdosis ontvang. Daarna kan hul inentings by die plaas se gewone bek-en-klouseerprogram aansluit.

Die groter uitdaging vorentoe is om te voorkom dat inenting ’n vals gevoel van veiligheid skep. Evans beklemtoon dat ingeënte diere steeds met bek-en-klouseer besmet kan raak en die virus aan ander vatbare diere kan oordra, al gebeur verspreiding gewoonlik teen ’n laer tempo as by oningeënte diere.

Dit beteken dat boere steeds aandag aan die basiese beheermaatreëls sal moet gee. Eiendomme waar onlangs ingeënt is, behoort nie as onmiddellik beskerm beskou te word nie. Bewegings tussen plase, veilings en skoue bly ’n risiko totdat genoeg tyd verloop het vir immuniteit om te ontwikkel.

“Inenting verminder die impak en verspreiding van bek-en-klouseer, maar dit voorkom nie onmiddellik infeksie nie,” sê hy. Daarom moet boere die 28-dae-stilstand respekteer, bewegings van vee streng bestuur, nuwe of verdagte diere apart hou en voortgaan met ander bioveiligheidsmaatreëls op die plaas.

Die entstof werk die beste wanneer dit deel van ’n groter siektebeheerprogram is. Die komende maande sal dus nie net afhang van hoeveel diere ingeënt word nie, maar ook van hoe konsekwent boere hul kuddes saam inent, skraagdosisse betyds toedien, bewegings beperk en verdagte gevalle aanmeld.

OFM Agri cvs

Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.