Agriculture
Sterker vervolging van veediefstal kry stukrag in Vrystaat─── 13:26 Thu, 17 Sep 2026
Vrystaat Landbou wil sy betrokkenheid by die ondersoek en vervolging van veediefstal verder uitbrei.
Die organisasie sê ’n onlangse vonnis van 15 jaar direkte gevangenisstraf wys hoe belangrik volledige getuienis oor die omvang en gevolge van veediefstal tydens hofverrigtinge kan wees. Die vonnis is aan Ompie Gert Thaele (43) opgelê nadat hy skuldig bevind is aan die diefstal van 63 skape in die Soutpan-gebied in April 2024.
Vier van die skape is destyds geslag, terwyl die karkasse en die oorblywende 59 skape later herwin is. Thaele was die hoofbeskuldigde in die saak en het ook vorige veroordelings vir veediefstal, sê dr. Jane Buys, Vrystaat Landbou se veiligheidsrisikoanalis.

Vrystaat Landbou se veediefstalverteenwoordiger, Isabel Kruger. Foto verskaf
Drie van die vier beskuldigdes het skuldig gepleit en later staatsgetuies geword. Hulle is ongeveer ’n jaar gelede elk tot 24 maande gevangenisstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is. Thaele het tydens die verloop van die saak versuim om hofverrigtinge by te woon en is later ingevolge ’n lasbrief deur die polisie in hegtenis geneem.
Die staatsaanklaer het tydens vonnisoplegging ook getuienis oor die omvang en ernstige gevolge van veediefstal voorgelê. Veediefstal word tans deur die NVG in die Vrystaat as ’n prioriteitsmisdaad beskou, sê Buys.
Vrystaat Landbou wil dié soort insette nou verder versterk. Die organisasie lewer sedert verlede jaar getuienis, dokumentasie en praktiese insette tydens opleiding vir staatsaanklaers en speurders op provinsiale en nasionale vlak. Die doel is om ondersoekers en aanklaers beter toe te rus om die volle aard en impak van veediefstal voor die hof te plaas.
‘Die verlies van vee het ’n direkte finansiële impak op produsente en kan deel vorm van groter, georganiseerde kriminele aktiwiteite’
Die tweede fase van dié opleidingsprogram vind van Maandag (14/9) tot Vrydag in Bloemfontein plaas, nadat die eerste fase in Julie aangebied is. Verteenwoordigers en advokate van die NVG, senior lede van die nasionale veediefstaleenheid en Vrystaat Landbou se veediefstalverteenwoordiger Isabel Kruger neem aan die program deel.
Die opleiding handel onder meer oor toepaslike wetgewing, die omvang van veediefstal en die belangrikheid van strafverswarende getuienis tydens vervolging en vonnisoplegging. Vrystaat Landbou se dokumentasie en getuienis word reeds toenemend in hofverrigtinge gebruik om die finansiële en breër gevolge vir produsente en landelike gemeenskappe te verduidelik.
“Die verlies van vee het ’n direkte finansiële impak op produsente en kan ook deel vorm van groter, georganiseerde kriminele aktiwiteite,” sê Kruger.
Die volgende stap behoort sterker ondersoeke na moontlike sindikate en georganiseerde groeperinge te wees. Die polisie en NVG moet waar toepaslik die volle omvang van sulke netwerke ondersoek en alle beskikbare strafverswarende getuienis aan die hof voorhou, vra Vrystaat Landbou.
Produsente en plattelandse gemeenskappe kan intussen ’n belangrike rol speel deur veediefstal en verdagte aktiwiteite vinnig by die polisie aan te meld en met plaaslike veiligheidstrukture saam te werk. Vrystaat Landbou wil ook sy samewerking met die polisiediens, die NVG en ander rolspelers voortsit om ondersoeke, vervolgings en toekomstige vonnisoplegging verder te versterk.
OFM Agri sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
