On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Lamb Champs kyk verder as Namibië ná BKS-terugslag

───   11:34 Fri, 02 Oct 2026

Lamb Champs kyk verder as Namibië ná BKS-terugslag | News Article
Die Lamb Champs Invitational gaan op 31 Oktober by Silver Lakes Farm Hotel in Pretoria voort ondanks Namibië se onttrekking. Foto verskaf

Die Lamb Champs Invitational gaan op 31 Oktober by Silver Lakes Farm Hotel in Pretoria voort ondanks Namibië se onttrekking ná ’n bek-en-klouseeruitbreking.

Die organiseerders sê die terugslag verander vanjaar se spanne, maar nie die plan om die kompetisie mettertyd in ’n groter internasionale landbouplatform te ontwikkel nie. Die NamLamb-span van tien boere is op 18 September in Windhoek aangekondig en sou teen tien Suid-Afrikaanse boere meeding. 

Namibië se veeartsenydienste het intussen sommige beperkings gedeeltelik opgehef, maar sekere bewegingsbeperkings bly van krag omdat die uitbreking steeds tot die Kharas-streek beperk is.

NamLamb en Lamb Champs het daarom besluit dat die Namibiese span nie vanjaar sal deelneem nie. 

’n Aangepaste kompetisieformaat vir die Invitational sal in die komende week aangekondig word. Foto verskaf

Dieregesondheid en biosekerheid moet eerste kom, sê Lamb Champs-stigter en Saai-hoof Francois Rossouw. Hy beskryf die onttrekking as teleurstellend ná die entoesiasme waarmee die span minder as twee weke tevore bekend gestel is.

Die Invitational gaan egter voort en ’n aangepaste kompetisieformaat sal in die komende week aangekondig word. Volgens Rossouw versterk die terugslag eintlik die rede waarom die Invitational ontwikkel word. “Namibië se onttrekking verander die spanne wat vanjaar deelneem; dit verander nie waarheen ons met die konsep op pad is nie.”

Die kompetisie beweeg daarmee verder as die oorspronklike streekformaat. Vir die eerste keer sal die Invitational regstreeks oor verskeie media- en verspreidingsvennote uitgesaai word. Die gesamentlike potensiële trefwydte word op meer as 1,5 miljoen kykers gestel, wat boere en hul produkte aan ’n veel groter gehoor kan bekend stel.

Saai-hoof Francois Rossouw. Foto: X

Rossouw sê ’n boer wat aan ’n streekskompetisie deelneem, kry gewoonlik blootstelling aan ’n paar duisend mense op die dag. Die nuwe formaat kan dieselfde boer, plaas, skaapras en produk voor honderdduisende kykers plaas. “Landbou moet ook gaan waar die gehoor is.”

Die Invitational word doelbewus as ’n vermaakgedrewe landboukompetisie uitgebou waarin boere en hul produkte die hoofrol speel. Die nuwe formaat is nie net vir mense langs die baan of op die terrein bedoel nie. Dit moet ook kykers oor ’n afstand betrek en landbouhandelsmerke ’n groter rede gee om deel van die platform te word.

Die kern van Lamb Champs bly eenvoudig: Boere ding mee om te bepaal wie die lekkerste lamsvleis produseer. Die groter doel is egter om verbruikers terselfdertyd bekend te stel aan verskillende rasse, boerderystreke, produksiestelsels en die mense agter die kos wat uiteindelik op hul borde beland.

Vir Rossouw lê die waarde dus nie net in die wenner op die dag nie. Hy wil ’n platform uitbou wat sterk genoeg is dat boere uit verskillende lande daarop wil meeding, verbruikers daarna wil kyk en landbouondernemings daarmee geassosieer wil word.

Die internasionale been sal daarom deel van die kompetisie se toekoms bly. Namibië bly volgens die organiseerders in die langtermynplan, terwyl deelname van spanne uit nog twee lande vir 2027 beplan word. Dit sal die formaat verder uitbrei as die oorspronklike idee van twee lande en 20 boere.

“Wat ons nou bou, het die potensiaal om ’n jaarlikse internasionale vertoonvenster vir skaapboere te word,” sê Rossouw. Besonderhede oor die aangepaste 2026-formaat, deelnemende boere en program word volgende week bekend gemaak.

OFM Agri cvs

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.