On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Besproei vir Groei-skoleprojek mik na volgende geslag landbouleiers

───   09:37 Mon, 05 Oct 2026

Besproei vir Groei-skoleprojek mik na volgende geslag landbouleiers | News Article
Reinke se skoleprojek Besproei vir Groei kan leerders blootstel aan die werklikheid van moderne landbou. Foto: Reinke

Reinke, landbouverskaffer wat konsentreer op besproeiingsdienste, se skoleprojek Besproei vir Groei betree sy laaste inskrywingsfase.

Skole het tot 31 Oktober om hul sakeplanne en motiverings in te dien. Die projek wil ’n landbouplatform skep waar mense reeds op skoolvlak met moderne produksie, hulpbronbestuur en entrepreneurskap kennis kan maak.

Die wenskool sal ’n besproeiingsprojek van tussen een en vyf hektaar ontwikkel, met ondersteuning van vennote wat kennis en toerusting na die terrein bring. 

Omnia is een van die kernvennote en sal help om voeding, watergebruik en gewasproduksie van meet af te bestuur. Die aanleg sal ook as ’n deurlopende leeromgewing vir leerders dien.

Louis Strydom. Foto: Omnia

Volgens Omnia-bemarkingsdirekteur Louis Strydom bied die projek veel meer as bloot ’n kompetisie. Hy meen dit kan leerders blootstel aan die werklikheid van moderne landbou en help om ingeligte besluite te neem oor studie, loopbane en moontlike ondernemings in die landbouwaardeketting.

Omnia se ondersteuning sal onder meer toegang tot landboukundiges en analitiese kapasiteit insluit. Grond-, blaar-, sap- en waterontledings kan gebruik word om aanbevelings oor voeding en produksie te verfyn. 

Die doel is om water en nutriënte só te bestuur dat die hoogste moontlike opbrengs met so min vermorsing as moontlik bereik word.

Hart van projek

Waterdoeltreffendheid sal veral belangrik wees omdat besproeiing die kern van die projek vorm. Strydom sê watergehalte en die hoeveelheid water wat toegedien word, moet noukeurig bestuur word om oorbesproeiing, besoedeling en onnodige druk op hulpbronne te voorkom. Dieselfde beginsel geld vir kunsmis en ander voedingsinsette.

Leerders sal ook met tegnologie kennis maak wat reeds ’n groot rol in kommersiële landbou speel. Dit sluit in satellietbeelde, rekenaarmodelle en algoritmes wat beeldmateriaal ontleed en produsente help om gewasse meer presies te bestuur. Omnia hoop dié blootstelling sal jong mense se beeld van landbou verbreed.

Die projek plaas terselfdertyd klem op vaardighede buite gewasproduksie. Skole kan die platform gebruik om leerders aan entrepreneurskap, finansiële beplanning, hulpbronbestuur en praktiese besluitneming bloot te stel. Indien die projek goed bestuur word, kan dit selfs mettertyd ’n inkomste vir die skool begin genereer.

Omnia se betrokkenheid sluit ook waardes soos veiligheid, respek, volhoubaarheid en samewerking in. 

Hy sê jong mense moet vroeg verstaan dat landbou nie net oor opbrengs gaan nie, maar ook oor verantwoordelike gebruik van grond, water en ander hulpbronne, asook die vermoë om saam met ander oplossings te ontwikkel. Daarmee wil die maatskappy verantwoordelike produsente en besluitnemers help vorm.

Met dié dat die sluitingsdatum vinnig nader, word skole aangemoedig om hul planne betyds af te rond en duidelik te wys hoe hulle die projek as leerplatform sal gebruik. Die wenprojek behoort uiteindelik nie net ’n stuk grond onder besproeiing te wees nie, maar ’n praktiese klaskamer vir die volgende geslag landbouleiers. 

• OFM is ’n mediavennoot van die projek.

OFM Agri dgcvs

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.