Agriculture
El Niño hou nuwe seisoen onseker vir Sentraal-Suid-Afrika se boere─── 10:54 Mon, 05 Oct 2026
Somergraanprodusente in Sentraal-Suid-Afrika begin die 2026/27-seisoen met beter grondvog, maar El Niño en hoër insetkoste kan die prentjie vinnig verander.
Boere in sommige streke berei reeds landerye voor en plantaktiwiteit behoort oor die volgende paar weke toe te neem. Onlangse reën het grondvog verder verbeter nadat die 2025/26-reënseisoen ongewoon lank aangehou het.
“Dit gee produsente ’n stewiger vertrekpunt as tydens onlangse droogtejare,” sê Wandile Sihlobo, Agbiz-hoofekonoom. Vir graanboere in veral die Vrystaat en Noordwes is 27 Oktober die volgende belangrike datum.
Die Oesskattingskomitee publiseer dan produsente se voornemens vir mielies, sonneblom, sojabone, grondbone, sorghum en droëbone.

Wandile Sihlobo. Foto: Facebook
Suid-Afrikaanse boere beplant gewoonlik sowat 4,5 miljoen hektaar met somergewasse, teenoor 4,6 miljoen hektaar verlede seisoen, waarvan 2,7 miljoen hektaar mielies was.
Die verwagte El Niño beteken volgens Sihlobo nie dat aanplantings skerp gaan afneem nie. “Ons verwag voorlopig nie ’n groot afname in die aangeplante oppervlakte nie.”
Goeie grondvog kan steeds behoorlike aanplantings ondersteun, terwyl korter-groeiende kultivars beter kan vaar indien bruikbare reën vroeg in die seisoen voortduur. “Tydsberekening gaan kritiek wees.”

Emmie Germishuys het dié foto van hael naby Brandvlei geneem. Foto: Facebook/Reënval in SA
Die risiko bly egter werklik. Die Suid-Afrikaanse Weerdiens waarsku die huidige sterk El Niño kan verder versterk en gedurende laat lente en die vroeë tot middel-somer droër en warmer toestande oor groot dele van die noordoostelike helfte van die land bring. “Boere moet daarvoor beplan, maar “die onsekerheid daaroor is baie groot,” sê hy.
Hoër insetkoste skep nog druk vir boere. Kunsmis- en brandstofpryse wat deur die oorlog tussen die VSA en Iran geraak word, kan bepaal hoeveel grond produsente beplant en hoe intensief gewasse bestuur word.
Vir Sentraal-Suid-Afrika beteken dit plantbesluite moet grondvog, kultivarkeuse en kostebeheer saam opweeg, eerder as om slegs op reënvooruitsigte te vertrou.
Sterk voorrade
Die goeie nuus is produsente gaan die nuwe seisoen binne met ruim graan- en oliesaadvoorraad binne. Die jongste raming plaas die 2025/26-somergraan-en oliesaadproduksie op 21,7 miljoen ton, 6% hoër as die vorige seisoen, met rekordoeste vir onder meer mielies en sojabone. “Dit verminder voorlopig die gevaar van ’n skerp styging in voedselpryse”, sê Sihlobo.
Mielievoorraad is besonder sterk. Suid-Afrika is op koers vir ’n oes van sowat 17,5 miljoen ton, die grootste nog, terwyl ongeveer drie miljoen ton in die huidige bemarkingsjaar uitgevoer kan word.
Dié voorraadposisie bied ’n belangrike buffer indien die komende seisoen moeiliker raak as wat produsente hoop.
Vir mielieprodusente in die Vrystaat en Noordwes beteken die sterk voorraadposisie egter ook dat die nuwe seisoen nie net deur opbrengs bepaal gaan word nie. Kostebeheer en bemarkingsbesluite sal belangrik bly wanneer produsente plantkeuses teen moontlike droogterisiko en insetpryse opweeg.
Die koringprentjie is minder gemaklik. Die 2026/27-winterkoringoes word op 1,81 miljoen ton geraam, 5% laer as ’n jaar gelede en die kleinste in agt jaar. Suid-Afrika se invoerbehoefte kan gevolglik tot sowat twee miljoen ton styg, hoewel wêreldvoorraad relatief sterk bly, sê Sihlobo.
Produsente in Sentraal-Suid-Afrika moet daarom nie te gerus wees oor die vroeë reën nie. Goeie grondvog bied ’n nuttige wegspringplek, maar die komende maande gaan noukeurige tydsberekening, streng insetbestuur en voortdurende aandag aan die weer vereis.
OFM Agri dg
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

