On Now
Weekdays 05:00 - 06:00
The Agri Hour Michael
Show Background
NEXT: 06:00 - 09:00 The Good Morning Breakfast with Shandor, Margaret and John
Listen Live Streams

Agriculture

Nampo Alfa sluit af met meer as kampioene en pryswenners

───   ISABEL VAN TONDER 05:00 Tue, 06 Oct 2026

Nampo Alfa sluit af met meer as kampioene en pryswenners | News Article
Nampo Alfa, die ekspo wat landbou vier en ook deel vorm van belangrike gesprekke, is by Nampopark aangebied. Foto: Facebook

Nampo Alfa het ’n belangrike boodskap van veerkragtigheid, samewerking en hernude vertroue in die Suid-Afrikaanse landbousektor uitgestuur.

Dié geleentheid van Vrydag (2/10) tot Sondag (4/10) op Nampopark buite Bothaville het vanjaar ’n besondere betekenis gehad met die volwaardige terugkeer van lewende hawe. Bek-en-klouseer het ’n groot invloed op vee-uitstallings en kompetisies gehad.

Albert Loubser, organiseerder van Nampo Alfa, sê daar was vanjaar selfs meer diere as wat aanvanklik verwag is. Die opkoms is ’n aanduiding van vertroue onder telers in die biosekerheidsmaatreëls wat ingestel is. Dié maatreëls was vanjaar die kern van die suksesvolle deelname van lewende hawe.

Die nasionale Old Mutual Wealth-interraskampioene vir 2026 is ook aangewys. Die wenbul is die eiendom van José Masciel van Arc-en-Ciel Brahmane en die wenkoei behoort aan Kobus Erasmus van Little Creek Simmentalers.

Die nasionale Old Mutual Wealth-interraskoei, Andries Gosimoloao (touleier), Kobus Erasmus en Karel Fourie van Old Mutual Wealth. Foto: Facebook

Vanjaar was die tiende aanbieding van die prestige-kompetisie, wat die beste genetika in die land vier. Die beoordelaars was Jaco Marais, Marius Barkhuizen en Ben du Plessis, wat almal deel is van die nasionale interras-beoordelaarsvereniging.

Die eerste BKB Super 10-bokskou is ook aangebied. Elke deelnemende teler mag net tien diere ingeskryf het in die tien klasse. Die teler wat die meeste punte kon opstapel het dan die skou gewen.

Die Boerbok-wenner was Andrew en Ju-Marie Roberts van Maize Valley Farms. Die Kalahari Red-wennerskroon is gedeel tussen Maize Valley en Albie Horn van Albion. Die Savannah-wenner was Jannes Wasserman van Jewel of Africa.

Die Old Mutual-interrasbul, Zwandile Nyandeni (touleier), Cor Loggenberg, kuddebestuurder van Arc-en-Ciel, en Karel Fourie van Old Mutual Health.

Die Voermol Mega-os wat vanjaar gewen het, was een van Flip Snyman van Heilbron, wat ’n massiewe 1 420 kg geweeg het.

Nampo Alfa was egter nie net oor vee nie. Die ekspo het ’n groot reeks landbou-, vaardigheid- en buitelewe-aktiwiteite byeengebring. Van die hoogtepunte was ook die Farm Skills-kompetisie, kleinvee, perde en ander diere, asook praktiese demonstrasies en gesprekke oor die toekoms van die veebedryf.

Farm Skills het leerders die geleentheid gebied om hul praktiese landbouvaardighede op nasionale vlak te toets. 

Die kaskarkompetisie is gewen deur Hoërskool Salomon Senekal, die plaasinstrumentkompetisie deur Hoërskool Bothaville en die draadspan-kompetisie deur Seotlong Agriculture and Hotel School in Qwaqwa.

Een van die belangrikste gesprekke was die Road to Recovery-bespreking oor die vraag hoe Suid-Afrika se veebedryf vorentoe kan beweeg. Die tema van winsgewendheid het ook sterk na vore gekom.

Uiteindelik was Nampo Alfa 2026 ’n viering van landbou, maar ook ’n weerspieëling van ’n bedryf wat deur moeilike tye beweeg. Nampo Alfa het ’n platform gebied vir praktiese oplossings, eerder as bloot die identifisering van probleme.

OFM Agri/Isabel van Tonder cvs

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.