On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Kommissie wil Premier-RFG-samesmelting laat herroep oor Tulbagh-fabriek

───   11:42 Wed, 07 Oct 2026

Kommissie wil Premier-RFG-samesmelting laat herroep oor Tulbagh-fabriek | News Article
Die Fruit Processing Western Cape-aanleg op Tulbagh is een van net twee vrugte-inmaakgeriewe in Suid-Afrika. Foto: Facebook

Die Mededingingskommissie wil die goedkeuring van Premier Group se samesmelting met RFG Holdings laat herroep.

Daar is bevind planne oor die moontlike sluiting van ’n belangrike vrugte-inmaakfabriek op Tulbagh is nie tydens die samesmeltingsproses bekend gemaak nie. Die kommissie het ’n aansoek by die Mededingingstribunaal ingedien ingevolge artikel 16(3) van die Mededingingswet. 

Die tribunaal het die groot samesmelting op 6 Maart voorwaardelik goedgekeur, onder meer met beskerming vir werknemers. Die transaksie het op 30 Maart in werking getree.

Voor die goedkeuring het Premier en RFG volgens die kommissie gesê hulle oorweeg nie die sluiting, verkoop, integrasie of konsolidasie van vervaardigingsgeriewe of produksielyne nie. Die partye het dié versekering tydens die tribunaalproses herhaal.

Premier en RFG het glo aanvanklik onderneem om geen produksielyne te sluit of verkoop nie. Foto: Facebook/Food for Mzansi

Premier het die kommissie egter in Julie, vier maande ná die samesmelting, ingelig hy wil RFG se Fruit Processing Western Cape-aanleg op Tulbagh sluit. Die fabriek is een van net twee vrugte-inmaakgeriewe in Suid-Afrika en bied ’n belangrike afsetkanaal vir sowat 200 Wes-Kaapse vrugteprodusente.

Meer as 400 permanente en vastetermynwerknemers kan deur die voorgenome sluiting geraak word. Duisende seisoenale werkgeleenthede in die breër landbouwaardeketting kan ook in die slag bly, terwyl produsente ’n gevestigde koper vir hul vrugte kwyt kan wees.

Die kommissie se aansoek volg op ’n ondersoek na ’n klagte wat onder andere deur die Suid-Afrikaanse Klere- en Tekstielwerkersunie ingedien is. In die ondersoek is volgens die kommissie bevind Premier en RFG het reeds voor die samesmelting die moontlikheid van die fabriek se sluiting bespreek, maar dit nie bekend gemaak nie.

Die kommissie meen dié inligting was wesenlik omdat die voorgenome sluiting mededinging én die openbare belang kon beïnvloed. Die sluiting sou volgens die verklaring die enigste mededinger van Langeberg uit die Suid-Afrikaanse mark verwyder en ’n monopolie in die sektor laat ontstaan.

Doris Tshepe, mededingingskommissaris, sê die integriteit van Suid-Afrika se samesmeltingsbeheer berus daarop dat partye alle wesenlike inligting volledig en eerlik bekend maak. Sy waarsku die kommissie kan nie mededinging- en openbarebelanggevolge behoorlik beoordeel wanneer belangrike feite teruggehou word nie.

Die tribunaal sal nou moet besluit of die oorspronklike goedkeuring herroep moet word. Die uitslag kan bepalend wees vir die toekoms van die Tulbagh-aanleg, honderde werkgeleenthede en ’n belangrike afsetmark vir Wes-Kaapse vrugteboere.

OFM Agri cvs

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.