Agriculture
Trekkerverkope kan onder druk bly weens droogterisiko─── 15:08 Wed, 07 Oct 2026
Suid-Afrika se trekkerverkope kan vir die res van die jaar en tot in 2027 onder druk bly namate hoë insetkoste en die verwagte El Niño-droogte boere se finansies knou.
Trekkerverkope het in September vir die vyfde agtereenvolgende maand op ’n jaargrondslag gedaal. Volgens syfers van die Suid-Afrikaanse Landboumasjinerie-assosiasie is 623 eenhede verkoop, 18% minder as ’n jaar tevore.
Wandile Sihlobo, hoofekonoom van Agbiz, sê die afkoeling volg op ’n lang tydperk van sterk verkope en ’n stadiger vervangingsiklus was dus te wagte. Die huidige tempo van die afname is egter skerper as wat verwag is.
Hoër insetkoste bly een van die grootste struikelblokke. Brandstof- en kunsmispryse word volgens Agbiz deur onstabiliteit in die Midde-Ooste opgestoot, terwyl die verwagte El Niño-droogte verdere druk op boere plaas aan die begin van die 2026/27-produksieseisoen.

Wandile Sihlobo. Foto: Facebook
Die swakker verkope kom ondanks ’n sterk landbouseisoen wat nou ten einde loop. Die Oesskattingskomitee voorspel die 2025/26-somergrane- en oliesade-oes op 21,7 miljoen ton, 6% meer as ’n jaar tevore. Gunstige La Niña-reën het groter aangeplante oppervlaktes en hoë opbrengste ondersteun.
Sterk vrugteoeste is ook aangeteken, maar die moontlikheid van droogte oorheers nou boere se vooruitsigte. Dit kan produsente versigtiger maak oor groot kapitaaluitgawes soos nuwe trekkers en ander landboumasjinerie.
Daar was wel ’n positiewe teken in September. Stroperverkope het tot 12 eenhede gestyg, 50% meer as ’n jaar gelede, ná ’n lang tydperk van swak verkope.
Die jaar se totale trekkerverkope behoort steeds redelik te lyk omdat die eerste deel van 2026 betreklik sterk was, meen Sihlobo. Die uitdaging het nader aan die middel van die jaar begin, toe verkope merkbaar begin afkoel het.
Die vooruitsig vir die komende maande sal daarom sterk afhang van weersomstandighede, insetkoste en boere se kontantvloei.
Indien droogtetoestande verdiep, kan masjinerieverkope volgens Agbiz verder verswak namate produsente groot aankope uitstel.
OFM Agri cvs
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

