Agriculture
Plaasmoord verskerp oproepe vir finale landelikeveiligheidsplan─── 12:31 Thu, 08 Oct 2026
Die regering word opnuut gevra om die hersiene nasionale landelikeveiligheidstrategie dringend af te handel en daadwerklik in werking te stel.
Die moord op Hannetjie van Zyl (55) buite Ottosdal in Noordwes wys weer waarom landelike veiligheid nie bloot deur beleidsdokumente, vergaderings en verklarings hanteer kan word nie, sê TLU SA. ’n Volgehoue veiligheidsprobleem in landelike gebiede verg ’n gekoördineerde reaksie van die staat.
Bennie van Zyl, TLU SA-hoofbestuurder meen die jongste aanval behoort die regering te dwing om duidelik te verduidelik wat gedoen word om soortgelyke voorvalle te voorkom. Volgens TLU SA se eie voorvalregister is 26 plaasaanvalle en drie plaasmoorde in Augustus aangeteken.
In September was daar 17 aanvalle, terwyl sewe plaasaanvalle en een plaasmoord reeds in die eerste sewe dae van Oktober aangeteken is. Die organisasie sê 32 plaasmoorde is in 2024 aangeteken en 23 in 2025.
Teen 7 Oktober vanjaar het die syfer reeds 27 bereik. Dit is sowat 17% meer as die totaal vir die hele 2025; byna drie maande van die jaar bly nog oor. Hierdie syfers beklemtoon die behoefte aan ’n werkbare veiligheidsplan vir boere, plaaswerkers en hul gesinne.
Van Zyl meen landelike veiligheid moet sigbaar wees in voldoende polisiëring, intelligensiegedrewe misdaadbekamping, vinnige reaksievermoë en samewerking met georganiseerde landbou en plaaslike veiligheidstrukture.

Hannetjie van Zyl is Maandag buite Ottosdal vermoor. Foto verskaf
Die nasionale landelikeveiligheidstrategie is volgens TLU SA sedert April onder hersiening, maar ’n hersiene weergawe is steeds nie finaal afgeteken nie. Die organisasie meen die uitgerekte proses is onaanvaarbaar en vra die strategie moet dringend afgehandel en in werking gestel word.
TLU SA vra ook vir duideliker politieke leiding oor plaasaanvalle en -moorde. Die organisasie meen boerderygemeenskappe behoort dieselfde erkenning en veiligheidsaandag te kry as ander gemeenskappe waar ernstige geweld voorkom.
Erkenning alleen sal nie die probleem oplos nie, meen Van Zyl, maar waarsku dat ’n veiligheidsprobleem wat nie behoorlik erken en geprioritiseer word nie, ook nie doeltreffend opgelos sal word nie.
Die organisasie verbind landelike veiligheid ook aan die volhoubaarheid van landbou en voedselproduksie. Boere word verwag om te produseer, te belê, werk te skep en voedsel te voorsien, maar kan volgens TLU SA nie terselfdertyd toenemende veiligheidsrisiko’s as bloot deel van boerdery aanvaar nie.
Die organisasie sal steeds plaasaanvalle en -moorde aanteken en landelike veiligheid op toepaslike platforms aanroer. Hy meen die staat se verantwoordelikheid kan nie toenemend na boere en gemeenskappe self verskuif word nie.
OFM Nuus sm
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.
