On Now
Weekdays 15:00 - 18:00
The Joyride Nico, Nikki and JayBee
Show Background
NEXT: 18:00 - 19:00 OFM Business Hour with Olebogeng
Listen Live Streams

Agriculture

BKS-hofbevel gee veeboere meer ruimte om op te tree

───   13:54 Thu, 08 Oct 2026

BKS-hofbevel gee veeboere meer ruimte om op te tree | News Article
Foto: Vecteezy

Veeboere kan voortaan onafhanklik bek-en-klouseer-entstof bekom en toedien, maar word steeds aangeraai om streng biosekerheid toe te pas en met geakkrediteerde private veeartse saam te werk.

’n Hooggeregshofbeslissing het ’n skikkingsooreenkoms in die bek-en-klouseerhofsaak tussen Vrystaat Landbou, Sakeliga en Saai teen die minister van landbou as ’n formele hofbevel bevestig. Vrystaat Landbou sê dit herstel boere se reg om onafhanklik entstof te verkry en toe te dien om hul vee te beskerm.

Die organisasie beskou die uitspraak as ’n belangrike stap om veeboere meer beheer oor siektevoorkoming te gee, maar waarsku dat die hofbevel nie die behoefte aan ’n doeltreffende nasionale siektebeheerstrategie uitskakel nie.

Friedl von Maltitz, Vrystaat Landbou-vise-president, meen die regstryd het tekortkominge in die staat se benadering tot biosekerheid blootgelê. Veeboere het volgens hom jare lank onder ’n stelsel gewerk waarin private optrede beperk is sonder dat ’n voldoende nasionale inperkings- en inentingstrategie ingestel is.

Friedl von Maltitz. Foto verskaf

Die gebrek aan ’n doeltreffende, deursigtige en skaalbare BKS-strategie het die veebedryf aan herhalende biosekerheidskrisisse blootgestel, waarsku hy.

Vrystaat Landbou is ook krities oor die gebrek aan steun wat die hofaksie aanvanklik binne dele van die landbousektor gekry het. Von Maltitz meen ’n meer verenigde benadering kon administratiewe vertragings verkort en moontlik handelsontwrigtings en kuddeverliese beperk het.

Die organisasie wil nou hê nie-presterende amptenare wat verantwoordelik is vir dieresiektebestuur moet deur kundiges vervang word wat biosekerheid verstaan en met kommersiële én opkomende produsente kan saamwerk.

“Dit is duidelik dat die huidige owerhede en amptenare wat getaak is met die toesig oor die bestuur van dieresiektes nie die visie, dringendheid en tegniese vermoë het wat nodig is om Suid-Afrika se landbou-ekonomie te beskerm nie,” sê Von Maltitz.

Die volgende stap sal volgens Vrystaat Landbou wees om seker te maak dat veeboere die nuwe ruimte verantwoordelik benut. Die organisasie vra produsente om nie bloot op entstof staat te maak nie, maar steeds bewegingsbeheer, goeie biosekerheid en professionele veeartsenykundige advies deel van hul BKS-bestuur te maak.

Vrystaat Landbou sal hom steeds beywer vir hervorming van die siektebeheerstelsel en vir ’n benadering waarin boere vinniger kan optree wanneer nuwe bedreigings ontstaan, sê Von Maltitz. Die hofbevel skep volgens die organisasie ’n duideliker grondslag waarop die veebedryf sy beskerming teen toekomstige BKS-uitbrekings kan versterk.

OFM Agri sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.