Agriculture
Baa-Barians gereed om Span Suid-Afrika in Lamb Champs uit te daag─── 09:28 Fri, 09 Oct 2026
Lamb Champs se eerste Invitational kry op 31 Oktober in Pretoria ’n nuwe plaaslike kragmeting wanneer die Baa-Barians teen Suid-Afrika aantree, terwyl die organiseerders reeds na internasionale uitbreiding in 2027 kyk.
Die Baa-Barians is saamgestel nadat Namibië weens ’n uitbreking van bek-en-klouseer aan vanjaar se kompetisie onttrek het. Die nuwe span bestaan uit tien skaapboere van verskillende dele van Suid-Afrika, met uiteenlopende rasse, boerdery-agtergronde en produksieomgewings.
Francois Rossouw, Saai- uitvoerende hoof, sê die organiseerders wou nie bloot ’n plaasvervanger vir Namibië vind nie. Die doel was om ’n span saam te stel wat Span Suid-Afrika werklik kan uitdaag. “Die Baa-Barians is nie hier om getalle vol te maak nie. Hulle is hier om te wen.”
Die span sluit in produsente van onder meer Dohne Merino-, Merino-, Dormer-, Vleismerino-, Suffolk-, Dorper- en Meatmaster-skape. Anton Nel van Somerset-Oos is die Baa-Barians se kaptein. Span Suid-Afrika sal onder kapteinskap van Gawie van Heerden meeding.

Francois Rossouw. Foto verskaf
Rossouw meen die samestelling skep ’n interessante nuwe dinamiek omdat boere wat normaalweg individueel teen mekaar sou meeding, nou spanmaats word. Die Baa-Barians het volgens hom terselfdertyd niks om te verloor nie en alles om te bewys.
Benewens die spankompetisie sal elke deelnemer ook vir die nuwe Zoetis Top Lamb-toekenning meeding. Zoetis het ’n kontantprys van R100 000 beskikbaar gestel vir die boer wat die hoogste individuele puntetelling tydens die kompetisie behaal.
Volgens Rossouw beklemtoon die toekenning hoeveel meer as die eindproduk by suksesvolle skaapboerdery betrokke is. Dieregesondheid, genetika, voeding en goeie boerderypraktyke speel volgens hom alles ’n rol in die gehalte van die lam wat uiteindelik beoordeel word.
Die Invitational vorm deel van Lamb Champs se verdere ontwikkeling as platform waar familieboere hul produkte direk aan verbruikers kan bekendstel. Anders as die bestaande streekskompetisies word die geleentheid aangebied as ’n vermaakgedrewe landboukompetisie vir ’n gehoor op die terrein én deur digitale uitsendings.
Die organiseerders sê die regstreekse uitsending oor verskeie media- en verspreidingsvennote kan ’n gesamentlike potensiële bereik van meer as 1,5 miljoen kykers hê. Veeplaas, Maroela Media, Pretoria FM, Farmer’s Weekly, Farmspace, Boermedia en Lamb Champs is onder die uitsaaivennote.
Ondernemings kry ook van Vrydag (9/10) tot 20 Oktober die geleentheid om deur ’n aanlyn veiling vir eksklusiewe borgskapregte van individuele Baa-Barians-boere te bie. Suksesvolle bieërs sal onder meer handelsmerkblootstelling op die boer se kompetisiehemp en tydens die regstreekse uitsending ontvang.
Lamb Champs kyk reeds verder as vanjaar se noodgedwonge Suid-Afrikaanse kragmeting. Die plan is om in 2027 spanne uit twee ander lande by die Invitational te betrek en die kompetisie verder as internasionale landbouplatform uit te bou.
Rossouw sê die groter doelwit bly om familieboere ’n internasionale verhoog vir hul produkte te gee en verbruikers op ’n nuwe manier by landbou te betrek.
Die Lamb Champs Invitational word op 31 Oktober by Silver Lakes Farm Hotel in Pretoria aangebied.
OFM Agri cvs
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

