Agriculture
TLU SA rig versoek: ‘Ry saam teen plaasaanvalle’─── 10:09 Thu, 12 Nov 2026
TLU SA moedig almal aan om op 6 Desember saam te staan en hul steun aan Suid-Afrika se boere sigbaar te maak.
Die landbouorganisasie ondersteun die nasionale motorfietsrit teen plaasaanvalle, wat op verskeie plekke landwyd aangebied sal word. Die projek wil motorfietsryers, gesinne en ander Suid-Afrikaners byeenbring om bewustheid van plaasaanvalle te bevorder en solidariteit met boere en landelike gemeenskappe te toon.
Die motorfietsrit is die geesteskind van David en Lientjie Swanepoel, en Biker Hart Radio is die mediavennoot.
Belangstelling in die geleentheid neem volgens die organiseerders toe, en koördineerders in verskeie provinsies tref reeds voorbereidings vir plaaslike byeenkomste en konvooie.

Mauritz Lombard. Foto: TLU SA
Mauritz Lombard, TLU SA-bestuurder van beleidskakeling, sê die organisasie waardeer elke persoon en instelling wat help om die werklikheid van plaasaanvalle onder die publiek se aandag te bring.
“Ons het groot waardering vir elkeen wat die harde werklikheid van plaasaanvalle in Suid-Afrika sigbaar maak. Dit is ’n werklikheid wat nie geïgnoreer of as bloot nog ’n misdaadsyfer afgemaak mag word nie.”
Hulle ondersteun die projek omdat dit mense byeenbring en ’n duidelike boodskap van eendragtigheid met boere uitdra. Die organisasie se span sal onder Lombard se leiding aan die motorfietsrit in Pretoria deelneem.
Ook motors welkom
Motorfietsklubs, individuele motorfietsryers, gesinne en ander belangstellendes word aangemoedig om by die byeenkomste in hul onderskeie gebiede aan te sluit. Mense wat nie motorfietse besit nie, sal ook kan deelneem. Hulle kan met motors agter die motorfietskonvooie aanry en só hul steun aan boere toon.
“Dit gaan nie oor politieke partye of persoonlike belange nie. Dit gaan daaroor om saam met boere te staan en die wêreld bewus te maak van die veiligheidskrisis waarmee landelike gemeenskappe te kampe het,” sê Lombard.
Hy meen elke deelnemer kan help om dié boodskap verder uit te dra en groter openbare bewustheid van die veiligheid van boere, hul gesinne en plaaswerkers te bevorder.
TLU SA-hoofbestuurder Bennie van Zyl beklemtoon ook dat plaasaanvalle nie bloot as nog ’n misdaadsyfer beskou behoort te word nie. “Plaasaanvalle, juis as gevolg van die wreedheid daarvan, mag nooit genormaliseer of stilweg aanvaar word nie.”
Hy moedig motorfietsryers, gesinne en ander Suid-Afrikaners aan om die geleentheid te ondersteun en saam met plattelandse gemeenskappe standpunt in te neem.
Die organiseerders beklemtoon dat die rit vreedsaam en ordelik moet verloop. Deelnemers word versoek om die reëls en opdragte van plaaslike koördineerders te gehoorsaam.
Belangstellendes wat nog inligting oor die beplande roetes, plaaslike byeenkomste en deelname verlang, kan met Lombard by TLU SA in verbinding tree.
OFM Agri cvs
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

