Agriculture
1,8 miljoen onbeantwoorde 10111-oproepe nasionale krisis – AfriForum─── 09:52 Fri, 13 Nov 2026
’n Burgerregteorganisasie sê ’n noodnommer is veronderstel om die één nommer te wees waarop Suid-Afrikaners kan staatmaak wanneer hulle in gevaar verkeer.
AfriForum vra weer gemeenskappe moet by hul eie veiligheid betrokke raak nadat kommerwekkende syfers oor die polisiediens se 10111-noodoproepsentrums bekend gemaak is.
Uit ’n skriftelike parlementêre antwoord deur Firoz Cachalia, waarnemende polisieminister, blyk dit die noodreaksiestelsel laat duisende Suid-Afrikaners in die steek wanneer hulle in nood verkeer, sê die organisasie.
Tydens die 2025/26-boekjaar is 1,79 miljoen oproepe na 10111 laat vaar. Dis sowat ’n vyfde van alle oproep wat die stelsel ontvang het. Die minister het erken derduisende noodoproepe bly onbeantwoord omdat die verhouding tussen die getal operateurs en inkomende oproepe heeltemal onvoldoende is.

Jacques Broodryk. Foto: AfriForum
Dit is meer as net statistiek, sê Jacques Broodryk, AfriForum se hoofwoordvoerder oor gemeenskapsveiligheid. “Agter elke oproep wat laat vaar word, kan daar iemand wees wat ’n plaasaanval probeer aanmeld, ’n gesin wat deur gewapende aanvallers in hul huis oorval word, ’n slagoffer van ’n motorkaping of iemand wat ’n geweldsmisdaad sien gebeur.”
In Augustus het ’n getuie van ’n grusame aanval in die Kaapse township Dunoon na bewering 10111 gebel terwyl hy gesien het hoe mense aangerand en na ’n vuur naby die N7 gedwing word. Al het die getuie ’n beraamde ligging met behulp van GPS verskaf, het hy glo gesukkel om hulp te kry omdat die operateur op ’n presiese ligging aangedring het. Hy het glo afgelui. Vier verkoolde liggame is later aangetref.
Die parlement se portefeuljekomitee oor polisie het later bevestig die hantering van die oproep was onaanvaarbaar. Tugstappe word oorweeg. Al kan nie met sekerheid vasgestel word dat ’n ander reaksie die slagoffers sou kon gered het nie, sê Broodryk, “laat die voorval vrae ontstaan oor die stelsel se vermoë om op noodsituasies te reageer terwyl dit nog aan die gang is”.

Die verdagtes in die onlangse wrede plaasaanval toe Ventersdorp-boer Donovan Marx gemartel is. Foto verskaf
In September het Kapenaars weer vergeefs die noodnommer gebel toe die diens onbeskikbaar geraak het. Die Stad Kaapstad moes inwoners na sy eie noodkommunikasiesentrum as alternatief verwys.
Die polisie se “onvermoë om ’n akkurate verhouding te verskaf tussen operateurs en inkomende oproepe – met die verskoning dat dit moeilik is om personeelgetalle vir afsonderlike skofte te bekom – (is) onaanvaarbaar en laat ernstige vrae oor verantwoordbaarheid ontstaan”, sê Broodryk.
Die polisie het ook erken die nodige statistieke om aanspreeklikheid te verseker in gevalle waar oproepe laat vaar of verkeerd hanteer is, kan nie altyd bekom word nie weens stelselbeperkings.
‘Ons kan nie dit as normaal aanvaar dat byna 5 000 oproepe om hulp elke dag laat vaar word nie’
Wat gebeur wanneer ’n reddingsboei soos die polisie se noodnommer nie beantwoord word nie, wil Broodryk weet. “Wat gebeur wanneer iemand aangeval word, ’n gesin met ’n vuurwapen aangehou word en daar niemand aan die ander kant van die lyn is om hulp te ontbied nie?
“Ons kan nie dit as normaal aanvaar dat byna 5 000 oproepe om hulp elke dag laat vaar word nie. Hierdie oproepe verteenwoordig werklike mense wat om hulp uitreik en die staat het ’n verantwoordelikheid om te verseker dat iemand antwoord.”
Suid-Afrikaners behoort nie per toeval hulp te ontvang wanneer hulle die polisie bel nie, voeg hy by. “Om hulp in ’n noodsituasie te kry, behoort nooit ’n dobbelspel te wees nie.
“Gemeenskappe word reeds genoop om deur buurtwagte, plaaswagte en ander wettige gemeenskapsveiligheidstrukture verantwoordelikheid vir hul eie veiligheid te aanvaar,” sê Broodryk.
“Hulle doen dit omdat hulle nie kan bekostig om te wag vir hulp wat moontlik nooit gaan kom nie. Gemeenskapsbetrokkenheid kan egter nie as verskoning dien vir die staat om sy grondwetlike plig om burgers te beskerm, te versaak nie.”
Elke onbeantwoorde noodoproep kan lei tot ’n tragedie. Die regering moet ophou “om hierdie krisis bloot aan statistieke te meet terwyl gewone Suid-Afrikaners met hul lewe daarvoor boet”, sê Broodryk.
OFM Agri cvs
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

