On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Bek-en-klouseer: Herinentings nou prioriteit

───   10:36 Tue, 17 Nov 2026

Bek-en-klouseer: Herinentings nou prioriteit | News Article
Foto ter illustrasie: Facebook

Die landbouminister vra veeboere moet streng biosekerheidsmaatreëls handhaaf noudat herinentings die prioriteit in die landwye veldtog teen bek-en-klouseer geword het.

Willie Aucamp sê meer as 90% van Suid-Afrika se beeskudde is reeds teen dié hoogs aansteeklike dieresiekte ingeënt. Alle provinsies het intussen met die volgende fase van die veldtog begin om te verseker dat die beeste hul immuniteit teen die siekte behou.

Aucamp het die aankondiging Vrydag (13/11) tydens Landbouskrywers SA se nasionale toekenningsgeleentheid op Muldersdrift in Gauteng gedoen. Die regering het sy aanvanklike mikpunt reeds oortref om 80% van die nasionale beeskudde teen einde Desember vanjaar in te ent.

“Om ’n inentingsyfer van 90% voor die sperdatum einde Desember te bereik, is ’n groot prestasie vir Suid-Afrika se landbousektor,” het Aucamp gesê. “Dit toon die goeie resultate wat bereik kan word wanneer die regering en die private sektor mekaar die hand reik.”

Willie Aucamp, minister van landbou, op ’n Boran-veiling. Foto: Facebook

Die landboudepartement bevestig meer as 22 miljoen dosisse entstof teen bek-en-klouseer is reeds aangekoop en onder die bedryf versprei. Die privaat sektor het sowat 4 miljoen beeste ingeënt en die staat amper 11 miljoen.

Die departement sal aanhou om veeboere toe te laat om hul eie beeste vrywillig in te ent om die land se inentingsvermoë uit te brei. Staatsveeartsenydienste sal intussen volhard met hul grootskaalse inentingsveldtogte landwyd.

“Deur die staat se kapasiteit en die energie, vaardighede en toewyding van boere en die private sektor te benut, bring ons die verspreiding van bek-en-klouseer vinnig onder beheer en beskerm ons Suid-Afrikaners se lewensbestaan, asook die land se uitvoermarkte vir rooivleis,” sê Aucamp.

Boere wat hul eie beeste wil inent, kan steeds aanlyn registreer om die nodige magtiging te verkry. Registrasie kan geskied op die webtuistes van die landboudepartement, Red Meat Industry Services of Buffalo Analytics.

Aucamp beklemtoon die belangrikheid van ’n ononderbroke voorraad entstof en sê boere kan dit aanlyn bestel en binne 24 uur ontvang. “Dis vir my ’n plesier om aan te kondig nuwe uitbrekings het skerp afgeneem.

“Die departement sal steeds nou saamwerk met georganiseerde landbou en elke boer om te verseker dat ons die stryd teen bek-en-klouseer bly wen.”

Aucamp en die departement bedank veeartse, dieregesondheidstegnici, boere en bedryfsvennote vir hul onwrikbare ondersteuning en harde werk om die siekte te bekamp.

OFM Agri cvs

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.