On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Roofdierskade: Nuwe forum wil Vrystaatse boere bystaan

───   12:00 Tue, 17 Nov 2026

Roofdierskade: Nuwe forum wil Vrystaatse boere bystaan | News Article
’n Rooikat. Foto: Abrie du Plessis/Predation Management SA

Vrystaatse vee- en wildboere kan uitsien na hulp met die bestuur van roofdierskade danksy ’n samewerkingsooreenkoms tussen die nuutgestigte Vrystaat Predasieforum en die provinsiale Rooivleisprodusenteorganisasie (RPO).

Die Vrystaatse Predasieforum is die afgelope Dinsdag (10/11) op aandrang van rooivleisprodusente in Bloemfontein gestig. Sy voorsitter en ondervoorsitter het Maandag (16/11) in die Rosestad met die RPO se Vrystaatse dagbestuur beraadslaag om die grondslag vir samewerking tussen die twee organisasies te lê.

Die forum sê in ’n verklaring die besluit is tydens die vergadering geneem om hom as ’n kommoditeitsentiteit te erken en ingevolge omskrewe riglyne saam te werk om skade wat roofsugtige diere in die provinsie veroorsaak, te bestuur.

“Die bestuur van die Vrystaatse Predasieforum spreek sy waardering uit teenoor die dagbestuur van die RPO Vrystaat vir die belangrike stap om deur middel van doelgerigte samewerkingsooreenkomste die belange van rooivleisprodusente te dien.”

Die Vrystaatse Predasieforum wil onder andere bees- en wildboere op voetsoolvlak ondersteun om skade veroorsaak deur roofsugtige diere te bestuur. Foto: Predation Management SA

Die forum wil bees-, skaap-, bok- en wildboere op voetsoolvlak ondersteun. Hy beoog om kundiges op alle toepaslike terreine by sy werksaamhede te betrek en bestaande netwerke van mense met kennis en ervaring van die bestuur van roofdiere verder te versterk.

Wetenskaplike navorsing en ontwikkeling sal ’n belangrike rol in dié werksaamhede speel. Die forum wil tersaaklike inligting inwin om riglyne te ontwikkel vir die beste praktyke in spesifieke dele van die Vrystaat.

Dié riglyne sal ook vir opleiding aangewend word. Die forum beoog om “die beste praktyke te gebruik as kursusmateriaal vir die opleiding van plaaswerkers, boere, en ander belangegroepe”.

Inligting wat ingewin en wetenskaplik verwerk is, sal op boerevergaderings en bedryfskongresse met belanghebbendes gedeel word. Die forum sal ook gereeld aan die RPO se provinsiale dagbestuur verslag doen oor die vordering wat gemaak is en mylpale wat bereik is.

“Die projek sluit niemand uit nie,” sê die forum. Hy wil inklusiewe samewerking met individue en groepe bevorder wat dieselfde belang by winsgewende, volhoubare en veilige rooivleisproduksie het.

Die forum sal die kundigheid van sy netwerk ook op versoek en ná oorweging van die meriete daarvan aan ander belangegroepe beskikbaar stel. Hy sal voorts aktief finansiering werf sodat die dienste wat hy aan boere wil bied, selfstandig en volhoubaar bedryf kan word.

OFM Agri cvs

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.