On Now
Weekdays 12:00 - 15:00
At Lunch Pulane
Show Background
NEXT: 15:00 - 18:00 The Joyride with Nico, Nikki and JayBee
Listen Live Streams

Agriculture

Graan SA vra dringende steun vir koringboere

───   11:00 Wed, 18 Nov 2026

Graan SA vra dringende steun vir koringboere | News Article
Graan SA vra steun vir koringboere. Foto: GraanSA

Graan SA vra dringende steun vir koringboere om nóg ’n moeilike produksieseisoen te oorleef.

Die organisasie waarsku ongunstige klimaatstoestande, hoë insetkoste en lae wêreldgraanpryse kan produsente se reeds geringe winsgrense verder verklein. Geldreserwes is uitgeput en noodsaaklike kapitaalvervanging word uitgestel.

Suid-Afrika se verwagte koringoes van 1,81 miljoen t vanjaar is die kleinste in agt jaar. Die verwagte gemiddelde opbrengs van 2,65 t/ha in die Wes-Kaap is aansienlik laer as die beraamde gelykbreekopbrengs van 3,2 t in die Swartland en 3,56 t in die Overberg en Suid-Kaap, sê Graan SA.

Dié berekeninge sluit die bykomende koste van produsente wat weens swaar reën lande vir ’n tweede keer moes beplant en bemes uit. Die oplossing berus nie by ’n enkele rolspeler nie, sê Richard Krige, Graan SA-voorsitter. 

“Produsente, finansiers, landbouondernemings, insetverskaffers en die res van die waardeketting sal moet saamwerk om produktiewe boerderye deur hierdie tydperk te help. Wanneer een skakel onder druk verkeer, raak dit uiteindelik die volhoubaarheid van die hele ketting.”

Beter gehalte, laer pryse

Navorsing deur die Buro vir Voedsel- en landboubeleid in opdrag van Graan SA toon plaaslike koring se bakwaarde was in die 2024/25-seisoen 38% hoër en sy maalwaarde 18% hoër as dié van die ingevoerde koring waarmee dit vergelyk is.

Plaaslike produsente het desondanks gemiddeld sowat R700/t, oftewel 11%,minder ontvang as die gemiddelde invoerprys nadat verskille tussen koringgrade verreken is.

Graan SA vra dat kopers produsente billik vir dié gehalte vergoed. Hy bevraagteken ook die outomatiese toepassing van Safex se liggingsdifferensiaal op pryse in die kontantmark.

Die organisasie vra voorts dat finansiers vroegtydig met produsente in gesprek tree om pasgemaakte finansiële oplossings te vind. Gesprekke hieroor is reeds op 10 September tydens Nampo Kaap by Bredasdorp aangeknoop.

Graan SA toets intussen ’n alternatiewe berekeningsmetode vir die invoertarief op koring en beywer hom vir strukturele hervorming om plaaslike produsente se mededingendheid te verbeter. Tobias Doyer, Graan SA- uitvoerendehoof, waarsku dat talle produsente egter nie meer oor die finansiële vermoë beskik om te wag totdat dié hervormings vrugte afwerp nie. “Daarom is onmiddellike steun net so belangrik as die werk aan strukturele oplossings.”

Die toekoms van plaaslike koringproduksie berus op drie pilare:onmiddellike finansiële steun, billike vergoeding vir produsente en daadwerklike vordering met strukturele hervorming, meen die organisasie.

OFM Agri sm

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.