Agriculture
Bloemfonteinse vervaardiger mik na Oos-Afrika─── 13:57 Wed, 18 Nov 2026
’n Bloemfonteinse vervaardiger van landbouverwerkingstoerusting hoop om sy uitvoermark na Oos-Afrika uit te brei deur aan ’n handelsending na Uganda deel te neem.
Basils Business Opportunities (BBO) is een van 17 ondernemings uit sewe Suid-Afrikaanse provinsies wat van 22 tot 26 November aan die sending deelneem. Die departement van handel, nywerheid en mededinging reël dit om plaaslike ondernemings toegang tot nuwe uitvoermarkte te help kry.
Die onderneming, wat ses mense in diens het, spesialiseer in die ontwerp, vervaardiging, verskaffing, installering en instandhouding van masjinerie en toerusting vir die verwerking van landbouprodukte. Sy produkte sluit in toerusting vir pluimvee-abattoirs, mobiele slaghuise, vrugte- en groenteverwerkingsmasjiene, pasteuriseerders, nywerheidsmengers, olieperse en verpakkingsmasjiene.
“Ons bedien boere, koöperasies, voedselverwerkingsondernemings, entrepreneurs, staatsinstellings en landbouontwikkelingsprojekte dwarsoor Suid-Afrika en in ander Afrikamarkte,” sê Basil Phupha (35), BBO-direkteur.

Reklamemateriaal wat wys watter produkte verskaf word. Foto: Skermgreep
“Ons strewe is om volhoubare landbouverwerkingsondernemings te bemagtig, industrialisering te bevorder, werkskepping te ondersteun en voedselsekerheid dwarsoor Afrika te versterk.”
Phupha het aanvanklik op Dewetsdorp, sowat 70 km van Bloemfontein, met pluimvee geboer voordat hy hom op die vervaardiging van masjinerie toegespits het. Lesotho is sy grootste uitvoermark.
Sy onderneming het egter ook reeds afsetgebiede gevestig in Mosambiek, Zimbabwe, Rwanda, Botswana, Eswatini, Ghana, Angola en Tanzanië.
Geleenthede in Uganda
Met die departement se hulp het hy aan handelsendings en internasionale handelsuitstallings in verskeie Afrikalande deelgeneem, waaronder Ghana, Mosambiek, Uganda en die Demokratiese Republiek die Kongo. “Dit sal my tweede besoek aan Uganda wees,” vertel hy.
“Ek was in 2019 saam met die departement daar. Dit was die eerste internasionale handelsending waaraan ek deelgeneem het.”
Hy het tydens dié besoek besef watter belangrike rol landbou in Uganda se ekonomie speel en watter geleenthede daar vir sy onderneming bestaan. “Die groot hoeveelhede landbouprodukte wat daar geproduseer word, moet verwerk word sodat boere meer voordeel uit hul produkte kan trek.”
Die departement verwys na Wêreldbanksyfers waarvolgens landbou byna ’n kwart van Uganda se BBP bydra en sowat 72% van dié land se arbeidsmag in diens het.
Phupha glo sy toerusting is by uitstek geskik vir die behoeftes van landbouprodusente en voedselverwerkingsondernemings op die vasteland. “Ons landbouverwerkingsmasjiene en -toerusting is pasgemaak vir Afrikatoestande. Daar is geleenthede vir ons om in Uganda sake te doen en ons sien uit na die reis.”
Hy hoop om nuwe kopers in Uganda en ander Oos-Afrikalande te werf. Indien hy daarin slaag, sal groter bestellings hom in staat stel om produksie by sy Bloemfonteinse onderneming uit te brei en meer werkgeleenthede te skep.
OFM Agri cvs
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

