On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

Voëlgriep: Volgende uitbreking net kwessie van tyd

───   10:30 Thu, 19 Nov 2026

Voëlgriep: Volgende uitbreking net kwessie van tyd | News Article
Foto ter illustrasie: Nasionale Instituut vir Aanmeldbare Siektes

Die SA Pluimveevereniging sê Suid-Afrika moet hom nou reeds op die volgende ernstige uitbreking van voëlgriep voorberei.

Izaak Breitenbach, SAPV se uitvoerende hoof, sê al ses uitbrekings van voëlgriep wat vanjaar in Suid-Afrika aangeteken is, is vinnig onder beheer gebring. Die wydverspreide ontwrigting wat die pluimveebedryf in 2023 beleef het, kon dus voorkom word.

“Vanuit ’n bedryfsoogpunt is dié vordering belangrik, maar dit moenie as ’n oorwinning beskou word nie,” sê Breitenbach. Die beheer van plaaslike uitbrekings beteken nie dat die gevaar van nuwe besmettings uit die buiteland of die ontstaan van nuwe virusstamme verdwyn het nie.

Uitbrekings in Europa, die VSA, Australië en Nieu-Seeland bly rede tot kommer. Hoewel die H7-subtipe van die voëlgriepvirus in 2023 groot skade op Suid-Afrikaanse plase aangerig het, wek die wydverspreide voorkoms van die H5-subtipe in die buiteland kommer oor toekomstige uitbrekings.

Izaak Breitenbach, SAPV se uitvoerende hoof. Foto: African Farming

Wilde trekvoëls, waaronder watervoëls en valke, kan die virus na Suid-Afrika bring. Die vereniging monitor dié voëlbevolkings as deel van sy vroeëwaarskuwingstelsel. Breitenbach sê die afwesigheid van bevestigde gevalle beteken nie dat die gevaar van besmetting verdwyn het nie.

Die voëlgriepuitbrekings van 2023 het die bedryf na raming R10,9 miljard gekos weens voëls wat gevrek het of van kant gemaak is. Die bedryf moes 285 miljoen broei-eiers invoer om braaikuikenproduksie te handhaaf en werkgeleenthede by abattoirs en verwerkingsaanlegte te help beskerm.

“In wese is dit ’n voedselsekerheidskwessie. Hoendervleis bly Suid-Afrika se bekostigbaarste en gewildste bron van dierlike proteïen. Wanneer produksie ontwrig word, word die gevolge regdeur die ekonomie gevoel, veral deur huishoudings met ’n lae inkomste wat reeds onder finansiële druk verkeer,” sê hy.

Grootskaalse inenting

Inenting is ’n belangrike deel van die verdediging teen voëlgriep op lang termyn, sê Breitenbach. Hoewel die bedryf inenting wyd ondersteun, vertraag regulatoriese vereistes die proses. Dit kan tot ’n jaar duur om die land se sowat 35 miljoen voëls in te ent.

“Die bedryf het dringend ’n praktiese raamwerk nodig wat grootskaalse inenting moontlik maak sonder om produsente met onhanteerbare administratiewe en finansiële laste op te saal.”

Hy beklemtoon die noodsaaklikheid daarvan om inenting met deeglike monitering en streng biosekerheid te kombineer. Produsente moet verhoed dat wilde voëls toegang tot pluimveehuise kry, oop waterbronne versigtig bestuur en streng higiënemaatreëls toepas.

“ ’n Enkele besmette veer wat deur ’n ventilasiestelsel in ’n pluimveehuis beland, kan verwoestende gevolge hê,” waarsku Breitenbach.

Beter samewerking tussen produsente, bedryfsorganisasies en veeartsenyowerhede is noodsaaklik om uitbrekings vinnig onder beheer te bring. 

“Die volgende uitbreking moenie die oomblik wees waarop ons vasstel of ons voorbereid is nie. Dit moet die oomblik wees waarop ons voorbereiding sy waarde bewys.”

OFM Agri cvs

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.