On Now
Weekdays 09:00 - 12:00
Mid-Morning Magic Yolanda
Show Background
NEXT: 12:00 - 15:00 At Lunch with Pulane
Listen Live Streams

Agriculture

SA, Botswana wil veediewe se hommeltuie stuit

───   10:55 Thu, 19 Nov 2026

SA, Botswana wil veediewe se hommeltuie stuit | News Article
Afgevaardigdes van die twee lande wat die vergadering bygewoon het. Foto verskaf

Die polisie in Suid-Afrika en Botswana wil maniere ondersoek om die gebruik van hommeltuie deur veediefstalsindikate te bekamp.

Die twee buurlande se polisiehoofde is bekommerd oor berigte dat misdaadsindikate dié tegnologie inspan om plase te verken, die bewegings van vee dop te hou en geleenthede te identifiseer om beeste, skape en bokke te steel. Hulle wil hul intelligensie- en ondersoekvermoë versterk.

Genl. Fannie Masemola, Suid-Afrika se nasionale polisiekommissaris, en sy Botswana-ampsgenoot, komm. Dinah Marathe, het van Maandag (16/11) tot Donderdag in Gaborone beraadslaag om praktiese oplossings vir oorgrensmisdaad te vind. Senior polisiebeamptes van albei lande werk aan ’n aksieplan om misdaad in probleemgebiede langs hul gemeenskaplike grens hok te slaan.

Die twee polisiedienste sê in ’n gesamentlike verklaring hulle gaan ondersoek instel na wettige en doeltreffende maniere om hommeltuie wat vir misdadige doeleindes gebruik word, op te spoor en die misbruik daarvan te stuit. Dit sal binne die onderskeie wetlike raamwerke van die twee lande geskied.

Komm. Dinah Marathe, Botswana se polisiehoof, tydens die gesprekke. Foto verskaf

Die aksieplan behels ook nouer samewerking tussen veediefstaleenhede, misdaadintelligensie, speurders, voertuigmisdaadondersoekeenhede en grenspolisiëringseenhede. 

Die polisie wil gesteelde vee en voertuie wat oor die grens geneem word, opspoor, asook voertuigdokumentasie verifieer, bedrieglike transaksies ondersoek en die sindikate wat vir dié misdade verantwoordelik is, aftakel.

Masemola sê misdadigers mag nie toegelaat word om landsgrense tot hul voordeel te gebruik nie. “Ons kan nie toelaat dat misdadigers beter georganiseerd is en oor beter netwerke beskik as die instellings wat verantwoordelik is vir die bekamping van misdaad nie.

Genl. Fannie Masemola, Suid-Afrika se nasionale polisiekommissaris. Foto verskaf

“As misdadigers inligting uitruil en hul bewegings oor ons grense koördineer, moet ons optrede ewe goed gekoördineer word. Ons verantwoordelikheid is om nie net dié misdadigers in hegtenis te neem nie, maar ook hul sindikate af te takel, hul netwerke te ontwrig, gesteelde eiendom terug te vind en herhaling te voorkom.”

Masemola en Marathe het ook met onder andere tradisionele leiers naby die Ramatlabama-grenspos vergader om te hoor hoe veediefstal en ander misdade gemeenskappe raak. Inligting van inwoners kan die polisie help om misdaadnetwerke te identifiseer, gesteelde vee op te spoor en verdere misdaad te voorkom.

Marathe pleit vir ’n verenigde benadering tot misdaadbekamping langs die grens. “Ons moet aanhou om intelligensie te deel, saam op te tree en die gemeenskap wat ons verbind, te beskerm. Laat tradisionele leiers, boere, kerke en gewone burgers aan weerskante van die grens ons oë en ore bly.”

Botswana se polisie sal ingevolge sy nuwe korporatiewe ontwikkelingstrategie nou met sy Suid-Afrikaanse eweknie saamwerk. “Laat ons ’n gemeenskaplike visie aanvaar: een grens, een intelligensievermoë, een reaksie.” Sy wil hê misdadigers moet die twee polisiedienste as ’n verenigde mag ervaar.

Die polisiehoofde het voorts ooreengekom dat operasionele spanne gereeld sal vergader om intelligensie uit te ruil, die vordering met ondersoeke en die uitvoering van die aksieplan te beoordeel, uitdagings te identifiseer en verdere gesamentlike ingrypings te beplan. Duidelike doelwitte en meetbare resultate moet aanspreeklikheid verseker.

Die twee polisiedienste onderneem om hul samewerking ná die vergadering in Gaborone voort te sit. Benewens die uitruil van misdaadintelligensie en die koördinering van operasies sal hulle ook hulpbronne en kundigheid deel en samewerking tussen bestuurslede én operasionele spanne versterk.

OFM Agri cvs

• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.


@ 2026 OFM - All rights reserved Disclaimer | Privacy Policy | We Use Cookies - OFM is a division of Central Media Group (PTY) LTD.