Agriculture
TLU SA eis weer: Maak plaasaanvalle prioriteitsmisdaad─── 13:40 Fri, 20 Nov 2026
Die landbouorganisasie TLU SA eis dat plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad geklassifiseer word en dat gespesialiseerde ondersoekeenhede ingespan word om die veiligheid van boere, plaaswerkers en landelike gemeenskappe te verseker.
Die organisasie reageer op die jongste kwartaallikse misdaadstatistieke wat Vrydag (20/11) deur die polisie bekendgemaak is. Hoewel hy enige afname in misdaad verwelkom, weerspieël dié syfers volgens hom nie die volle omvang van misdaad en die uitwerking daarvan op gemeenskappe nie.
Bennie van Zyl, TLU SA-hoofbestuurder, bevraagteken of die polisie eerder statistiek as misdaad bestuur. Hy meen die nodige politieke wil, opleiding, toerusting en hulpbronne ontbreek steeds om misdaad doeltreffend te bekamp en die land te stabiliseer.
Luidens die jongste misdaadstatistiek is agt lede van die landbougemeenskap tussen Julie en September vanjaar vermoor. Die slagoffers sluit twee plaaseienaars, drie werknemers, twee inwoners en ’n veiligheidswag in. Een plaaseienaar is in die Vrystaat vermoor, terwyl twee werknemers in Noordwes vermoor is.

Bennie van Zyl, hoofbestuurder van TLU SA. Foto: Facebook
Terwyl aangemelde veediefstalsake landwyd met 9,9% tot 5 606 afgeneem het, is die Noord-Kaap die enigste provinsie waar ’n toename aangeteken is. Sake het daar met 6,2% tot 171 toegeneem, teenoor afnames van 5,1% in die Vrystaat en 0,8% in Noordwes.
Taung in Noordwes beklee die sesde plek landwyd onder polisiekantore waar die meeste veediefstalsake aangemeld is, gevolg deur Pudimoe in die negende plek. By Zastron, waar 26 sake aangemeld is, is die meeste veediefstalsake in die Vrystaat aangeteken.
Landwyd is 18 693 skape, 12 293 beeste en 12 012 bokke tydens die drie maande gesteel.
‘Ons het sigbare polisiëring, doeltreffende ondersoeke en gespesialiseerde aandag aan misdade soos plaasaanvalle en veediefstal nodig’
Plaasaanvalle, plaasmoorde, veediefstal en diefstal van landboumasjinerie bedreig nie net boere se veiligheid nie, maar ook hul ondernemings en die land se voedselproduksievermoë, meen Gawie Lötter, TLU SA-dienstebestuurder.
“Misdaad in landelike gebiede kan nie met algemene polisiëring alleen aangepak word nie. Ons het sigbare polisiëring, doeltreffende ondersoeke en gespesialiseerde aandag aan misdade soos plaasaanvalle en veediefstal nodig.”
Hy meen die klassifikasie van plaasaanvalle as ’n prioriteitsmisdaad sal verseker dat die nodige hulpbronne en gespesialiseerde ondersoekkapasiteit beskikbaar gestel word. Die veiligheid van boere, hul gesinne en plaaswerkers kan nie langer op die agtergrond geskuif word nie, sê Lötter.
TLU SA doen ook ’n beroep op die regering en die polisie om georganiseerde misdaadsindikate en veediefstalnetwerke te ontmantel, ondersoek- en vervolgingskapasiteit te verbeter en samewerking tussen die polisie, boereorganisasies en private veiligheidsinisiatiewe te bevorder.
Hoewel gemeenskapsbetrokkenheid belangrik is, kan dit volgens die organisasie nie doeltreffende wetstoepassing vervang nie. Die staat dra die verantwoordelikheid om alle Suid-Afrikaners te beskerm.
“Sonder veilige landelike gemeenskappe kan daar nie volhoubare voedselproduksie, werkskepping en ekonomiese groei wees nie,” sê Lötter.
OFM Agri cvs
• Deel jou landbounuus: agri@ofm.co.za.

