Press Office
Sentraal-SA beleef buitengewone ‘O-frikaanse’ ervaring op 8 Mei─── 15:28 Fri, 09 May 2025

OFM, die klank van jou lewe, wat gewoonlik net in dubbelmedium (Afrikaans en Engels) uitsaai, het die eeufees van Afrikaans as amptelike taal aangegryp om luisteraars ’n buitengewone ‘O-frikaanse’ ervaring te bied.
OFM het gedeel in die viering van 100 jaar van Afrikaans as amptelike taal op 8 Mei 2025 met ’n uitskietterdag waartydens luisteraars op ’n speellys van die beste Afrikaanse musiek, onderhoude met taalkenners en kunstenaars, asook ’n kans om te wen getrakteer is.
Die oggend het begin met die ontbytspan wat die geskiedenis van Afrikaans en Afrikaans as amptelike taal gedeel het, en ook die omroeperspan uitgedaag het om net Afrikaans op dié dag te praat. Shandor Potgieter en Margaret Whitfield het gesels met onder andere Johrné van Huyssteen, Peach van Pletzen, en Kurt Darren voordat Yolanda Maartens met haar laatoggendprogram ’n paar spesiale gaste in die ateljee verwelkom het.
@ofm9497 Vandag vier #OFM saam #Afrikaans100 ? original sound - OFM
Die Bloemfonteinse musikus Anton Esterhuyse het Sentraal Suid-Afrika se ore bederf met die kreatiewe vrug van maande se harde werk. Hy en videograaf Zita Olinger het einde 2024 die reuse-uitdaging aangepak om 100 ikoniese Afrikaanse liedjies op klavier vas te lê in ’n reeks treffende musiekvideo’s waarin Esterhuyse verskeie kunstenaars en sanggroepe begelei het. Dié projek, wat ook deel van die Afrikaans 100-vieringe saam met die ATKV was, het amptelik ten einde geloop en Esterhuyse kon die geleentheid gebruik om ’n keurspel van dié 100 liedjies in tien minute, regstreeks op die lug te deel.
Die OFM-nuusspan het ook gesorg luisteraars bly op hoogte van verskeie Afrikaans 100-vierings in die uitsaaistreek en ander dele van die land, en het ook verskeie skrywers soos Francois Smith, Maretha Maartens, Fanie Viljoen en Jaco Jacobs se insette gedeel.
Anny Bruyns het tydens die middageteprogram regstreeks uitgesaai vanaf die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein. Hier kon Paul Colditz, voorsitter van die Vriende van Naln, en Wyno Simes, die kurator, meer vertel oor die ryk geskiedenis van die museum asook hul rykdom van uitstallings.
Pulane Nel-Sekepe het verder met die gewilde musikante Refentse, Dodo en Tino gesels oor hul passie vir Afrikaans en om hulself kreatief in Afrikaans uit te leef.
Luisteraars kon ook deelneem aan ’n opwindende kompetisie. Omroepers is deurentyd op die Telegram-lyn daarvan bewus gemaak om ’n R5-munt in die boetefles te gooi en die ‘tol’ te betaal elke keer wat hulle ’n Engelse woord gebruik.
Deur die loop van die dag het OFM se “Taalgeneraal”, OFM Nuusredakteur Morné van Rooyen, die span op hul taalfoute gewys, maar ook aangeprys vir hul volharding om net Afrikaans te gebruik.
Teen huistoegaantyd was die boetefles al redelik vol en kon OFM uiteindelik Lorretta Rossouw van Kroonstad beloon met R5 000. ’n Gelukkige luisteraar, wat deur die dag fyn geluister en ‘boete’ na die Telegram-lyn gestuur het, is as wenner getrek.
Omroeper Nico van der Westhuizen het die laaste skof van OFM se taalviering op gepaste wyse afgesluit deur vanaf die Taalmonument in Paarl uit te saai. Dit was ook die ligging waar prof. Debra Meyer, wat volgende jaar die leisels van die Sol Plaatje Universiteit as vise-kanselier neem, ’n gedenklesing ‘Hoe help bou ons aan nog ’n 100 jaar vir Afrikaans in Afrika’ gelewer het.
Van der Westhuizen het ook met ikone van Afrikaanse musiek soos Snotkop, DJ Ready D en Laurika Rauch gesels.
Die dag het weereens bevestig Afrikaans is nie net ’n taal nie – dit is ’n lewende deel van kultuur, geskiedenis en identiteit. Dit weerspieël die unieke ritme van ons gemeenskappe en die stemme van die mense wat dit elke dag gebruik. Dit was vir OFM ’n reuse-eer om ons programaanbieding op hierdie besonderse wyse aan die viering van Afrikaans as amptelike taal te kon wy.
Al die onderhoude van die dag kan hier geluister word:
Waarom OFM
OFM, die klank van jou lewe, is Sentraal-Suid-Afrika se voorste handelsradiostasie, wat ’n verskeidenheid musiek, nuus en vermaak bied. Die stasie vier vanjaar reeds 39 jaar in die uitsaaiwese. OFM is deel van die Central Media Group, met sy hoofkantoor in Bloemfontein.
Die stasie bedien die welvarende SEM 7-10- ekonomies aktiewe mark met ’n uitsaaigebied wat die Vrystaat, Noord-Kaap, Suid-Gauteng en Noordwes insluit. OFM is sinoniem met die mense van Sentraal-Suid-Afrika, en sluit ’n volle spektrum van luisteraars in, van stedelike werkende ouers, tot korporatiewe professionele persone, sowel as plattelandse gemeenskappe en landbouprodusente.
Die stasie het ’n ongelooflik lojale en ondersteunende gehoor. OFM se luisteraars spandeer van die meeste tyd wat luisteraars in Suid-Afrika deurbring om radio te luister.
Dit word bereik deur die stasie se gepaste musiekaanbiedinge – luisteraars kan hul gunstelingliedjies op die Request Network versoek en op Saterdae kan hulle inskakel om saam Sentraal-Suid-Afrika se 30 grootste treffers op die Central SA Top 30 af te tel.
OFM bied verskeie nisprogramme aan – insluitend ’n toegewyde landbouprogram met drie bykomende landbounuusopdaterings per dag, asook as ’n spesialis-sakeprogram.
Sport lê OFM-luisteraars na aan die hart en dit is wat baie Sentraal-Suid-Afrikaners bymekaarbring. Die stasie is ’n trotse vennoot, borg en ondersteuner van die Cheetahs-, Griekwas- en Luiperds-rugbyspan, asook die Knights-, Heat- en Dragons-krieketspan.
OFM is daartoe verbind om die waarlik goeie lewe te lei, en terselfdertyd Sentraal-Suid-Afrikaners te help om hul beste lewe te leef.