Press Office
OFM vier 40 j. met die stem wat alles begin het─── 08:32 Mon, 06 Jul 2026
Radio sal altyd magic wees. Dit is die woorde van die man wat 40 jaar gelede die destydse Radio Oranje begin het, met sy stem wat die heel eerste ooit op die stasie gehoor is.
Daardie selfde stem het Woensdag (1/7) teruggekeer na die ateljee as deel van OFM, die klank van jou lewe, se 40ste verjaardagvieringe.
Manie Kitching het hom by die Breakfast Show aangesluit en was terug in die ateljee vir die eerste keer in baie jare. Dit was ’n baie emosionele terugkeer sedert hy OFM in 2003 verlaat het.
Hy was van 1985 tot 2003 deel van die stasie, en sê dit was besonders om weer agter die mikrofoon te sit waar sy radioreis begin het. Hoewel baie dinge oor vier dekades verander het, bly die kern van radio dieselfde.
“As jy 40 jaar teruggaan, is daar nog baie ooreenkomste. Radio is nog steeds radio. Dit bly steeds magic,” het hy gesê.
Daar is wel ’n groot verskil in die benadering tot uitsaai. “In die vroeë jare was radio streng gevorm deur ’n Afrikaanse kultuur- en diensagtergrond, waar taal en aanbieding baie streng beheer is.” Vandag, sê hy, is dit baie meer ontspanne en kan aanbieders maklik tale meng en natuurliker op die lug klnk.
“Destyds, as jy ‘Brasilië’ anders gesê het, is jy oor die vingers getik. Vandag is dit baie meer ontspanne, jy kan jou tale meng,” sê Kitching.
Vroeër moes die aanbieder alles self doen – plate speel, die ateljee bestuur en alles aan die gang hou, terwyl radio vandag baie meer geoutomatiseer en eenvoudiger is. “Deesdae druk jy ’n knoppie en alles is daar. Destyds was jy betrokke by alles.”
Ten spyte van al die veranderinge, sê hy die wonder van radio bly onveranderd. “OFM sal altyd ’n spesiale plek in my hart hê. Die stasie se luisteraars is eerlik en kan nie met nonsens geflous word nie.”
Dis soms emosioneel om erkenning te ontvang, en hy beskryf radio as ’n spanpoging eerder as individuele sukses. “Radio is groter as individue … of jy ’n bestuurder is of koffiekoppies was, jy is deel van ’n spesiale span.
“Dit is vir my ’n groot voorreg en eer om weer hier te wees. Baie geluk met julle verjaarsdag, OFM! Dankie vir die warm welkom en vir alles wat julle vir julle luisteraars beteken. Mag daar nog baie suksesvolle jare volg.”
Vir meer inligting, kontak marketing@ofm.co.za.
EINDE
Wie is OFM?
In die hartjie van Suid-Afrika is ’n medium wat mense vorentoe laat beweeg. OFM skep die klankbaan vir die lewe in die Vrystaat, Noord-Kaap, Noordwes en Suid-Gauteng.
Dié streek is ryk aan minerale en hernubare energie, maar sy waardevolste bate is sy inwoners. Dekades reeds behaal “gewone” mense uit Sentraal-Suid-Afrika buitengewone prestasies – van die ontstaan van die vryheidstryd in Bloemfontein, tot aartsbiskop Desmond Tutu se geboorte in Klerksdorp en dié van Afrika se eerste ruimtevaarder, Mark Shuttleworth, in Welkom.
Hier lei deursettingsvermoë tot onvergeetlike oomblikke: ’n mediese student van die Universiteit van die Vrystaat dra die Mej. Wêreld-kroon; die Griekwas hou die Curriebeker omhoog ná 55 jaar. En elke dag sit tallose onbesonge helde dié tradisie voort. Ons kom hulle teë waar hulle ook al is, wanneer aanhangers van OFM ons vloot geel voertuie opgewonde begroet tydens aktiverings en buite-uitsendings dwarsoor ons gebied.
Hier waar samesyn ’n mens se lewensgehalte bepaal, is samehorigheid nie net ’n woord nie, dis ’n lewenswyse. As die nood druk, bring Sentraal-Suid-Afrikaners hul kant. In Oktober het ons luisteraars R1,2 miljoen vir Kansa help insamel. Tydens ’n eendaagse radiothon in Julie is R300 000 ingesamel om kinders en bejaardes teen die winterkoue te help pantser.
Ons vier ook die ligter sy. Melktertkoors het die streek beetgepak tydens ons prettige Melktertmeesters, en op Erfenisdag het ons gehoor die braaibroodjiegeskil besleg: tradisioneel kraai koning. Intussen maak OFM CLOSET, die tuiste van die bekende bakkie-arm, die lewe pret met pittige slagspreuke op alles van sokkies tot T-hemde.
As Sentraal-Suid-Afrika se voorste handelsradiostasie bied OFM nie net vermaak nie, maar ook belangrike inligting vir die alledaagse lewe en sakewêreld.
Landbou is die ruggraat van ons streek. Produkte van wêreldgehalte – soos lams- en beesvleis, druiwe, kersies en neute – word in alle uithoeke van die wêreld geniet. Die landboubedryf is ons hartklop. Ons weet wanneer die reën wegbly, wanneer siektes die waardeketting benadeel en wanneer produsente hulp nodig het. Ons het selfs ’n boer gehelp om “in groen na goud te reik” met ’n nuwe John Deere-trekker.
OFM is die klank van NAMPO Oesdag, die grootste landbou-ekspo in die suidelike halfrond met 800 uitstallers waarheen 100 000 besoekers oor vier dae stroom.
Ons saai nie net uit na Sentraal-Suid-Afrika nie, ons vier en dien dié streek.
Vier provinsies. Driehonderdduisend luisteraars op die lug. Aanlyn nog driehonderdduisend wat stroom en ’n kwartmiljoen volgelinge op sosiale media.
Een hartklop wat dit alles saambind.
OFM – die klank van jou lewe.
